Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
259 Long Road (Bedelia, Welkom)
Ek dink terug aan Long Road
Aan die sestigs in Bedelia
Ons Vrystaat tyd van grootword
Aan die Welkom van ons kindsdae
My pa werk myn by President Brand
My ma by Sales-house/Edgars
Hul inkomste nie juis flamboyant
Alhoewel daar genoeg van als was
Twee ses agt ses een, hallo
So antwoord ek beleef
Ons maak tee as mense kom
So’t my Mamma ons geleer
Bedelia was ons laerskool
Juf Spamer gee Sub b
McDonald rig operette af
Terwyl Erasmus wiskunde gee
De Klerk, hy was die skoolhoof
Hy kon lekker slaan
Juffrou Nel gee Ingels
Vir haar was ek so bang
Een Kersfees dag kry ek ’n fiets
Japie kry rolskaatse
As hy my vang, moet ek hom sleep
Hy hou vas aan ’n draad
Die Jerlings is ons bure
Vir rugby speel so lief
Ons speel Super-fast vir ure
Of poeliesman en dief
Een middag speel ons rugby
Op die voor gras waar ons bly
Jury Jerling gaan vir steke
Toe die kraan sy bobeen sny
Hul pa bou eenkeer foefie slide
Gemaak van pyp en draad
Die draad breek toe ek afgly
Ek val op rug se naat
Somtyds was ons parkie toe
By Bedelia se kerk
Vir dryfings speel, ek sê jou hoe
Van rugby maak ons werk
Ons ander maats was Mike en Shawn
Ek dink Wilson was hul van
Hul ma, die tannie, het kwaai gedrink
Hul pa n kwaaie man
Ek en Japie kry weer stry
Outa Andries probeer keer
Japie stamp hom bo-oor my
Op sy boude neer
Snyman was my graad een maat
Ons terg Japie sonder vrees
As hy ons vang, had hy geen raad
Te jammer vir ons gewees
Op hoërskool, had Japie maats
Muller, Tone en Thronne
Op hul fietse is hul baas
Maak meisies opgewonne
Op standerd vyf trek bure in
Hul had twee meisie-kinds
Elizabeth was na my sin
Beatrice haar klein sus
Ons kys, Elizabeth en ek
Sy wys toe sy weet veel
Sy dog toe seker ek is gek
Want ek wou net speel
Een aand laat, kom Japie tuis
Op sy fiets aangeslinger
Tolla was die oorsaak juis
Maar beskuldig toe vir Muller
Soms het mamma toegelaat
As pa die middag werk
Dat ons skelm fliek toe gaan
Tot tien-uur was die perk
Japie het in sy slaap geloop
Een aand lol dit weer
“Hy’t ’n mes” het hy beangs laat hoor
Pa keer hom by die deur
Toe ek standerd ses begin
Was Japie standerd tien
Toe die ouens ons ontgroen
Het hy my veel ontsien
Goudveld Hoër was ons skool
Die hoof Meneer Joubert
Hoër op in Long Road
So drie kilo’s ver
Die juffrouens was Groenewalt
Seekoei, en Van Rooyen
Die juffrou, vrou van meneer Neuwhout
Sy was vir my so mooi
Die menere was McDonald
Bertram, Ogies en Div
Die ander kan ek nie onthou
My geheue is nou al suf
By Goudveld Hoër koshuis
Het ek Vrydag middae vas gestaan
Soek ’n Datsun twaalfhondert GS
Daar kom ouboet aan
Die jongens van die dorp het saans
Die Perdeskoen besoek
Vir romanse was daar altyd kans
Vir elke kar ’n hoek
Hul ry dan om en om die park
Kyk uit vir ’n maat
As hul sien wie ’n kans wil vat
Begin die engines praat
Die meisies jaag, draai hier, dan daar
Die mans volg vir ’n vaal
Dan skielik stop, parkeer hul waar
Die mans hul in kan haal
Nyala House was my huis
Toe ek myn gaan werk
Met my bike koop ek ’n plot
Toe ’n trapfiets my betrek
Daar’s nog baie stories
Van Welkom te vertel
Maar dit sal aanhou tot laatnag
Die slaap sal jou oorval
Pretoriusstraat 2 (Wesselsbron)
Pretoriusstraat 2
’n liefdevolle huis
Miskien ’n bietjie bouvallig
Maar daar was ek tuis
By Pretoriusstraat 2
Was ’n vrou van formaat
’n moeder vol liefde
Wat haar dogters verstaan
By Pretoriusstraat 2
Het ek jou eerste gesien
Ek’t gedink jy’s nog klein
Jy het koeldrank bedien
By Pretoriusstraat 2
Hoor ek jou lag
Nooit het ons geweet
Dat ons saamwees nog wag
By Pretoriusstraat 2
Het ek liefde gekry
Van die ma van my meisie
Na wie ek sou vry
By Pretoriusstraat 2
Het ek jou leer ken
Word ek lief vir jou hare
Word ek lief vir jou stem
By Pretoriusstraat 2
Leer ken ek jou krale
mooi katoenrokkies
En jou mooi sandale
By Pretoriusstraat 2
Het jy op die stoep gewag
Jou bruin hare in die son
Elke Vrydag middag
By Pretoriusstraat 2
Het ons TV ervaar
“Little house on the Prairie”
En “Thorn birds” was daar
By Pretoriusstraat 2
Vry ons op die bank
Mammie haal water
Bevrees vir ons drang
By Pretoriusstraat 2
Het my geluk begin
Ek kyk Moto GP
Met die girl wat ek min
By Pretoriusstraat 2
Het Mammie kos uit gehou
Woensdae en Vrydae
Want ek kom kuier vir jou
By Pretoriusstraat 2
Vier ons jou sweet sixteen
Mammie koop jou Pioneer
Uit die bietjie wat sy verdien
Na Pretoriusstraat 2
Het my hart verlang
Ver in die weermag
Ver van my ghantang
Na Pretoriusstraat 2
Het ek lyn geslaan
By dubbel een nege
Was haar stem, was haar naam
By Pretoriusstraat 2
Het ons in my kar gekuier
Met Dire Straits en Neil Diamond
Het ons smiddae geluier
Pretoriusstraat 2
Was ware mense
Die adres van ons jeug
Verskuif my geluk grense
Wat ‘n moeder
(Baba Bekker-Delport)
Wat ‘n moeder is sy nie
Wat met so min, so veel vermag
Bang vir gee was sy nie
Haar sagte hart, haar grootste prag
“Mammie” noem haar dogters haar
Dit kom natuurlik, daardie naam
Ek was gou as seun aanvaar
“Mammie” is sy, ek’t gou verstaan
Kookkos op die stoof se rak
Wag vir my, ingeval ek kom
Elke Woensdag, en Saterdag
En haar kookkuns, laat my stom
Sy’t my nooit veroordeel nie
Al ry ek bike, my hare lank
Steur haar nie aan praatjies nie
In haar hart, gee sy my kans
Al haar dogters was gelyk
En haar skoonseuns, trek nie een voor
Rusies was gou uitgestryk
Gelyk getel, kleinkinders ook
Sy’t ons ook ‘n pa gebring
Pa Frans was ook ‘n goeie vriend
Gou was ons een groot gesin
Sy was gou by hul geliefd
Mammie’t ook groot seer geken
Twee lewensmaats, moes sy afstaan
Haar dogter ook, na soveel pyn
En skoonseuns ook, moes sy laat gaan
Mammie kon mooi tuinwerk doen
Altyd gaande oor ‘n blom
Haar hande sterk, haar vingers groen
Sou heeltyd tuinmaak, as sy kon
Dan was daar ook, haar boerbeskuit
Met regte aartappel-suurdeeg in
En jam-tertjies, ek het besluit
Geen-een sal met haar kan meeding
Wat ‘n voorreg het ons nie
Om so ‘n mammie te kan hê
Sy’t ‘n grote legacy
Dis diep en ver, waar haar spore lê
Vrou in my bed
(Aan Elma, 2017.11.15)
vvvvv
Daar’s ‘n vrou in my bed, al een wat ek het
Sy dra my ring aan haar vinger
Soms slaap ons net, soms het ons pret
Wat aan twee jonges herinner
Dan is dit so, goed om te leef
Dan wil ek my, in haar begeef
Dan gee sy haar, self aan my oor
Dan is daar niks, om te verloor
Vvvvv
Daar’s ‘n vrou in my huis, sy’s in die kombuis
Haar kos is van hoogste gehalte
Ek voel so tuis, haar waardes is juis
My welsyn altyd in gedagte
Sy gee haarself, sy gee haar tyd
Sy maan my sag, kan my nie verwyt
Haar voete staan vas, haar hande is sterk
Sy’s fyn en sy’s mooi, sy’s nie bang vir werk
Vvvvv
Daar’s ‘n vrou aan my sy, sy’s kosbaar vir my
‘n Edel geskenk van Die Vader
Ek het met tyd, haar liewer gekry
Ons harte omwentel al nader
Soms wil ek haar, net sit ek bekyk
Soms wil ek haar, styf teen my vas druk
Sy is sowaar, my beste vriendin
Sy maak dit maklik, om haar te bemin
Vvvvv
Daar’s ‘n vrou wat ek ken, sy’t my hart gewen
Maar eintlik ken sy my beter
Ek’s verlief op haar stem, sy het my getem
Haar toewyding, dit is verseker
Ek kan vir haar, vertel van my vrees
Ek hoef by haar, nie macho te wees
Sy is my vriend, sy’s nie bang daarvoor
Sy is ‘n vrou, sy’s nie skaam daaroor
Vvvvv
Daar’s ‘n vrou in my bed, al een wat ek het
Sy dra my ring aan haar vinger
Soms slaap ons net, soms het ons pret
Wat aan twee jonges herinner
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.