As jy wonder waar is Noordhoek; kruip skuins agter Tafelberg weg met ’n lang wit strand. Algemene tydverdrywe sluit in; stap op die strand, perdry op die strand en ’n joint rook op die strand.
18 Mei 2017 kan jy na die trio World Cafe luister by café Roux in Noordhoek met hul eie weergawe van Antonio Vivaldi se Vier Seisoene.
Soos julle reeds weet het Vivaldi die Vier Seisoene geskryf vir ’n strykorkes, kerkorrel (met ’n klein “k”) en ’n viool. World Cafe het die viool behou in die hande van Petrus de Beer, die kerkorrel vervang met Stanislav Angelov se trekklavier en dit rus op die skouers van Schalk Joubert om die res op ’n baskitaar te speel.
Die Vier Seisoene is oorspronklik gepubliseer saam met vier sonnette wat die seisoene beskryf. Dr. Dawid de Villiers het dit vir World Cafe in Afrikaans vertaal:
Lente
Meteens is lente hier, en word feest’lik [Allegro]
Verwelkom deur die blye voëlgesang,
Wyl stroompies murmel in die westelike
Bries se vol en sagte asemdrang.
Dan word die lug gehul in donkerder gewaad –
Dat blits en donder dit ook kan verkondig –
En dan uit stilte keer die voëls terug
Om weer opnuut bekoring los te laat.
In die blomryke veld, onder ’n tak [Largo]
Vol ruiselende blare lê en slaap
Die bokwagter en sy getroue brak.
Geroer deur pastorale doedelsak [Allegro]
Dans nimf en herder op die lentemaat
Onder ’n helderbloue hemeldak.
Somer
Onder die son se agtelose gloed [Allegro non molto]
Word boom verskroei, word mens en trop verdryf.
Ons hoor die koekoekvoël asook die soet
Gesange van die vink en tortelduif.
Sag roer die luggie, maar die noorderwind
Kom ingebeur soos ’n onstoke god.
Dan skud en beef die herder soos ’n kind,
En vrees die toorn van storms en sy eie lot.
Dié vrees vir donderslag en bliksemstraal [Adagio e piano – Presto e forte]
Wring uit ’n diepe rus sy tam liggaam,
Wyl vliëe en muggies rasend om hom maal.
Dit blyk sy vrese het tereg gemaan: [Presto]
Noudat die hemel brul en brute hael
Neerdonder op die fier en trotse graan.
Herfs
Die werkers dans en sing, die oes was gul; [Allegro]
Nou vier hul fees, voorlopig klaar gebid.
Vrylik vloei die drank van Bacchus, tot hul
Uit loutere verligting begin dut.
Weldrae begin die dans en sang te faal [Adagio molto]
Soos die gemoedelike luggie oor hul streel
En die seisoen hul een vir een oorhaal
Om aan ’n sorgelose slaap hul oor te gee.
Met dagbreek staan die jagter reeds gereed [Allegro]
Om te gaan jag, en roep die wild tot stryd
Met honde, beuelgeskal, en luide kreet;
Die prooi, beangs en moeg, probeer ontwyk
Hond en geweer se blaf, als wat hom leed
Wil doen: tog word hy oorrompel, en beswyk.
Winter
Om in die koue sneeu te staan en ril, [Allegro con molto]
Voete te stamp – met die geklap van tande –
Geboelie deur die wind se harde hande,
Genadeloos die koue, skraal en kil;
Om nader aan die vuur te skuif, so stil
En vergenoegd, wyl reën op ander neersak; [Largo]
Om die bevrore pad stug aan te pak,
Versigtig om net nie te val of struikel; [Allegro]
Om neer te slaan, oorhaastig en wantrouig,
En voor die ys kan opbreek en versplinter
Weer op te spring en vinnig voort te vlug.
Tot agter ’n toe deur is mens verwilder
Wyl winde steeds mekaar te lyf gaan, onbedug.
Eiesoortig is die vreugdes van die winter.
So, die plek is café Roux,
die datum 18 Mei 2017,
kaartjies kos R160 per persoon,
die deure gaan oop om 18h30,
en die Vier Seisoene begin 20h30.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.