Uittogboek – ’n bundel wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig – is ’n hoogtepunt in die digter Johan Myburg se oeuvre.
Temas soos die doodsbesef, die mens se verganklikheid en die optekening van laaste dinge word op subtiele en sensitiewe wyse benader en met ironie en humor deurspek.
Die samebindende gegewe van die bundel is die Romeinse keiser Hadrianus (76–138 n.C.), en die bundel open met sy bekende sterfgedig in Latyn en Myburg se trefsekere vertaling daarvan in Afrikaans.
Myburg bewys homself met hierdie publikasie as ’n digter wat nie slegs formele verse nie, maar ook vrye verse en langer prosagedigte kan skryf wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, gevange hou en betower.
Binne die bestek van drie digbundels het Johan Myburg hom gevestig as een van die mees gerekende digters in die Afrikaanse digkuns; in hoofsaak omrede elke publikasie van hom van ʼn fyn vakmanskap getuig wat nie net sy eie nie, maar die totale digkuns verruim. Hy debuteer met Vlugskrif (1984). Sy volgende bundel, Kontrafak (1994) word met die Eugène Marais-prys bekroon. In 2008 verskyn die indrukwekkende Kamermusiek; ʼn bundel waar die kamer die sentrale ruimte is waarbinne handeling afspeel.
Benewens digter is Myburg ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en teologie gestudeer en is tans besig met nagraadse studie in visuele kunste.
Uittogboek / Johan Myburg — Protea Boekhuis, 15 Mei 2017; sagteband. — ISBN 9781485307761