Alle paaie lei binnekort weer na die mooie plattelandse dorpie McGregor, vir alle liefhebbers van die woordkuns. Die vyfde jaarlikse Gedigte in McGregor naweek vind vanjaar vanaf 25 – 27 Augustus 2017 plaas. Vanjaar is daar meer as 90 aanbiedinge en die program sorg vir `n heerlike mengelmoes van bekende, asook nuwe, vars jong stemme in Afrikaans, Engels en Xhosa.
Digters wat van hul werke gaan deel sluit Koos Kombuis, Ashley Dowds, Pieter Fourie, Johan Myburg, Nic de Jager, Kobus Moolman, Lungiswa Nyatyowa, Lerato Sibanda, Philip de Vos, Diana Ferrus, Daniel Hugo, Lara Kirsten, Fanie Olivier, Koos van der Merwe, Mavis Vermaak, Wendy Woodward, Hermien de Vos en vele meer in. Vir `n volledige lys van al die betrokke digters gaan na: http://mcgregorpoetryfestival.co.za/2017-poets/
Billy Kennedy, eienaar van Temenos en stigter van die Gedigte in McGregor naweek sê dat gedigte `n belangrike rol in ons lewens speel: “Ek glo dit is so noodsaaklik soos vars lug. Iemand het eens geskryf dat baie van die geweld en sielkundige probleme in ons samelewing waarskynlik te danke is aan die gebrek aan poësie. Bevooroordeling is altyd eensydig. Poësie maak gedagtes oop. Poësie is uitdagend; dit kan ons hervorm en herskep. Dit geen ons dieper insig en bewustheid van mekaar en hoe ons almal in gees verbind is. Dit doen vir die gees wat joga vir die liggaam doen.”
Kennedy sê dit was `n maklike taak om `n tema vir vanjaar se Gedigte in McGregor naweek te kies: ‘Hartsgebonde’. Hy sê: “Baie van wat ons die afgelope paar jaar as `n kommittee uitgerig het, met die hulp van die wonderlike digters wat ons van die begin af ondersteun het, is uit die hart gebore. Ons het nou NWO status en al ons fondse word eerstens aangewend om Gedigte in McGregor te laat groei, maar ook om verskeie gemeenskapsprojekte in McGregor te ondersteun. Gedigte in McGregor verwelkom nie net bekroonde en gepubliseerde digters nie, maar ook jong, onontdekte talent.”
McGregor is die perfekte dorpie vir die viering van digkuns. Die lokale is loopafstand van mekaar en die plattelandse sjarme van die dorp dra by tot `n unieke ervaring.
As deel van die Gedigte in McGregor naweek, gaan die MAC projek ook `n spesiale skoledag-program op Vrydag 25 Augustus aanbied. Meer as 800 leerlinge van verskeie skole in die omgewing sal die geleentheid bywoon. Die Kaapse kunstenaar Ha Man! sal saam met Joke Debaere `n konsert van musiek, drama en gedigte aanbied. Die Afrikaanse groep Ruk! gaan ook deur die loop van die oggend optree.
Gedigte-kompetisie: Ons het verlede jaar inskrywings van oor die hele land ontvang en ons nooi jul weer uit om vir vanjaar se Gedigte-kompetisie in te skryf. Hierdie jaar se tema is “Poësie as hartskos.” Alle inskrywings moet hierdie tema reflekteer. Die kompetisie is oop vir ongepubliseerde digters en daar is twee kategorieë:
Oop kategorie vir volwassenes: Die prysgeld vir wenner is R5 000.00
Skole kategorie (oop vir leerders graad 7 tot 12): die wenner kry `n splinternuwe iPad.
Inskrywings kan per epos gestuur word na: mcgpoets@gmail.com voor 30 Julie 2017. Vir meer inligting en reëls gaan na www.poetryinmcgregor.co.za
Daar is ook vanjaar weer `n aanbieding van die gewilde ‘Open Mic’ sessies. Hierdie sessies word gelei deur Hugh Hodge (http://hahodge.blogspot.co.za/p/about-me.html). Enige iemand wat graag sy/haar gedigte wil voordra is welkom. Almal is welkom om dit by te woon. Geen kaartjies of besprekings is nodig vir die “Open Mic” sessies nie.
Kaartjies beskikbaar by Computicket vanaf middel Julie.

Lara Kirsten
foto en kunswerk: Edna Fourie/ Dani`s Photos