Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Papier bloeisels
gevlerkte teks stoei in my
breek deur grendels
en drup genadig na benede
skrýf leë papier tot sand
waar woorde lomp val
in smart en ook oopbeklag
openbaar my binnekant
wat om erkenning veg
kwesbaar lê ek
met modderhande betas
deur roetes van my binnetrane
tree jy deur my woestynland
waar die son ongenadiglik brand;
uit vier windstreke sweef
tirades wat legkaarte
tot nuwe bloeisels breek
op papier
© Anzé Bezuidenhout
In grysepulwer
amber skadu’s flits in jou oë
waar jy rug gedraai na my toe staan
verklaar jy ‘n slagveld op ‘n blanko bladsy
sny grafiet maer erts waar jy toe-oë
my woorde steel en slukverteer
word n lewe nuut in Godspraak
met lood gegrys, gebaar
uit die bas van olifanthout
vir behoud van talekuns
hou die natuurwet van liefde
jou in ysterkettings en bind jou jukke
met tronkdeure wat in loodgrys reën
deur woordvreugde word jou verdriet ontmasker
in die tempel-lanings wat deur jou oë bloei
en vryheid fladder deur die vlaktes van jou siel
en ek jou verjaag uit die spasie
waar hart en kop en hande
soos ‘n keramis, graffito’s in gryspulwer
teen die ééns witflets skilder
wysheid en inkspraak word die harnas van jou behoud
waar die son na jou waarheid gryp,
dit aan die goue woordstrale hang
en jy, jy vry van doolhofverbannings swerf
in die grys môrestond herrys die goue middaguur
wat aan my verstand vleuels verskaf
my denke nakend op papier kom verf
as skadu’s sterf kry my woorde ‘n voetpad deur my hart
van mitiese tydgleuwe en sommer oor niks
ek begin lewe en is daar is groei
waar jy volkome op die ritme van my asem leef
© Anzé Bezuidenhout
Kruispad
oor die dooier
van gemufte brood
se skewe grafieklyn
breek die muwwe brokke
van my nagmaal
D A N
uit die skemerskadu’s
tree ‘n begeerte na hoop
om ook hierdie kruispad
heelvoet te kan loop;
oor geroeste doringdraad
en oor hak en steek;
prewelend, kouend
en slukkend
met kíés:
sal ek lag of verstik
© Anzé Bezuidenhout
Skenk jy …
skenk, ja gee daagliks
mildelik troos;
mirre goud en
diamant uit die skatkis
van jou binnekant
salf my met jou bekoring
in koring se bronstige geel
stuur jou reddende boodskap
in rooi, helder soos die son
sprei jou vlerke deur engellig
heilig dan veersag die brakwater
van ons onseker tye met
die roer van jou hand
genees die siek
wat soos wurms vreet
deur ons brose gees
herstel so die wind se seer
wat wonde oopwaai
en waarheid verdraai
skenk, ja gee daagliks
mildelik troos; mirre goud
en ‘n diamant
© Anzé Bezuidenhout
Ligkaatser
as ek bidblind broos deur emosies kolk
en die son kartelbreek oor verskanste horison
tuimel onthou nes ‘n ylwind se sing-sing
soos verskeurde lanferlappe met jubelsange
oor die bontstiltes van my hart se kyk
waar verse soms soos ‘n ou-ooi gaan lê
kronkel jy my toe in ‘n trooskombers
met verskillende kwaste van helder pers
dan word jou skadu ‘n vagevuur wat binne my stoei
die refleksie van my denke word om jou gebou;
en oor die stom-oewers van my praat
blaar jy lowergroen om my sinne
want
J Y
is die ligkaatser
van my diepste wese
waar ek my werklikheid
druppel vir druppel in jou kyk
in minnewoorde sien blom
© Anzé Bezuidenhout
Gekerkerde kristal
sand palet saffraan in eb en vloed
en jy, waarom het jy in jou wegstap my lag vol
gate geloop en my drome langs die pad verkoop
nou lê ek getronk (soos ‘n vergete songodin)
gekerker in kristal en wag om die son te groet
in my oë dwarrel ‘n leë gesmeek na jou
sodat ek my dors in jou wees kan les
fladderende gevoelens tortel in die kluisterglas
brandend dog weerloos lê my smagting opgedam
terwyl my vingers, reeds stukkend
deur glas gesny, na uitkoms grou
weggespoel, verlore staan ek dan
droomverlore tussen dooie gras terwyl ek
smagtend in vingerverf met geel skakerings
oor traantralies lyne trek met iewers versteek
‘n bitter blou en ‘n d i e p e onthou
© Anzé Bezuidenhout
Koue vuur
tyd se koue vuur brand
deur die gange van my
treurende siel wat na
die aarde smag terwyl
klanklose hosannas
deur die alfabet spoed
© Anzé Bezuidenhout
In die hart van Korinte
ons liefde is vasgenaelstring
by die dieper lees van Korinte
daar waar genade immer
dorstong na nog meer wil lek
jou omgee maak blink
natspoorpaadjies
soos ‘n slak se spoor
en dit is in die hak
van die Wag-‘n-bietjie-bos
waar ons liefde dan vasklou
daar onder die Mopanie
op die eentonige note
van die sonbesie se sang
word die troebadoer
(diep binne jou)
se lied getoonset
dan in die flouflikkervuurvlieg
se skitter lig
drup jou gebede vir ons
met klanke van reën
op ‘n dorre somersdag
daar iewers in die
hart van Korinte
© Anzé Bezuidenhout
My ghantang
My reis het in jou lyf begin
daar waar die tortelwoorde
van jou sagkyk en trekke
van jou mond
omgang plant
in sagte aalmoes-grond.
Minnedigte sonder tal
word in jou bloed ontgin
want jy’s my einde en
ook weer my nuwe begin;
my mallemeule
wat rondomtalie spin.
Jý ja jy’s die ghantang
van my binnekant wat
onbeskroomd maanligstrale
vir my vang om dit met die
donsgeel van ‘n soetdoring
tot ere-kranse
in my hare vleg.
© Anzé Bezuidenhout
My pruttel woorde
Pruttel liefhê-letters
soos dryfhout uit my hart
nes ‘n hemelse lullaby;
versamel dit nektar
deur skrefiewimpers,
want in jou beelt’nis
het ek my vrede gevind.
In die warm klanke
van jou hartstaal
gekaart soos druppende note
uit ‘n basviool,
wat die Melkweg roekeloos
nét vir my inkatrol.
Ek verdwaal in die
lagkreukels om jou oë,
ek dryf in jou muskusreuk
wat soos rivierbane deur my psige
kronkel in mosaïek van dieprooi.
Jou hartklop staan in duet
en ek bid dat die son sy tree maskeer
vir tyd om stil te staan…
D A N
by aanskoue van hierdie geluk,
het ‘n glimlag (van puur genot)
aan God se mondhoek gepluk.
© Anzé Bezuidenhout
Ligkaatser
Jou skadu
is die vagevuur
wat binne
my gloei
die refleksie
van my denke
word om jou gebou;
J Y
die ligkaatser
van my diepste wese
waar ek my
werklikheid
in jou oë
druppel vir druppel
in minnewoorde
sien blom.
© Anzé Bezuidenhout
My gebede(m)uur
Iewers in die verre
Jerusalem staan ek
gesluierd (ook denkbeeldig)
op kreukel-knieë
biddend voor hierdie
ó so vreemde
gebedemuur.
Gebedsnotas orals in
gebarste stene gedruk,
hartsbedes van suiwer
geluk, maar ook trane
uit die wese geruk
wat die muur as
verskuilde graffiti versier.
Smekend om te mag lewe
na die heilige gebod, liefde
tot my naaste
en my Almagtige God.
Ware ligfakkel in
elke donker uur. Dis
die rede vir my
lewensduur.
© Anzé Bezuidenhout
My labirint (Dwaaltuin)
Spartel my ontroeringe
soos ‘n fynbos-verlange
wat deur my labirint
tot ‘n voltooide sirkel
waarin ek ongeveinsste
liefde vind.
Verwonderheid wat
uit blomverdorde-kokon
tot skoenlapperskoonheid
bloei in lewegewende
nektar van die liefdeson.
Fladderende emosies
wat ewigdeur eb en vloed
in jou oë se vurige gloed
kom kolk soos lawavure
deur my bloed.
© Anzé Bezuidenhout
Koue vuur
tyd se koue vuur brand
deur die gange van my
treurende siel wat na
die aarde smag terwyl
klanklose hosannas
deur die alfabet spoed
© Anzé Bezuidenhout
Arabiese lente – Haikoe
lewe sielesmart
Arabiese lentebloed
deurdrenk die erfgrond
© Anzé Bezuidenhout
My boekanier
op die wieke van ‘n boekanierskip
is my liefde deur jou gekaap
daagliks hang flenter emosies aan die mas
vleg lint en brokaat ragfyn deur my gedagtelyn
wapper jou ruwe seerower dors
op elke asemteug wat klop-klop
in die holte van my bors
op soet klanke van ‘n vroetelwind
wat dwelm en bottelnek trek en dan
skuilte soek in die kuiltjie van my nek
word jou liefde bely in die mooiste neurie-klank
wat sag vlindervlerk in die skulp van my hoor
en guitig oor my vel hoender trek
teen jou bolyf wil ek my honger en dors les
nagmaal met genadebrood breek en wyn skink
in die amber van die son wat perske oor die dag
terwyl ons wegvaar oor die oseaan wat wink
net ek en jy met jou boekanier hart
© Anzé Bezuidenhout
Jou dade het die Woord opnuut vertaal
toe alles woes en leeg was
het jou wese in die takke
van die boom van
kennis van goed en kwaad
(daar waar die Gerubs waak)
gaan lê
jou liefde vir my geoffer
in heilige offerbakke met die
geur van jasmyn en kleur
van die mooiste robyn
in die vloed van jou oë het
jy die see vir my oopgeskeur
my gedra op die vlerke
van ‘n spierwit duif
in teerheid vul jy my
met die soetheid van
manna en ‘n dagoud kwartel
soos n goeie herder
gee jy aan my rus
van vermoeienis
as my mure val soos die
van Jerigo en jy
jy my met ‘n rooi koord
van verkrummeling red
daar waar jy vir my
wysheidstempels bou
in teerheid my met brood
en wyn bedien loop my beker oor
op die Golgotaheuwels
van menswees het jy die kruis
staangemaak met die opskrif
vir almal om te lees
my Mannin – my Eva
en het jou dade die Woord
opnuut vertaal
© Anzé Bezuidenhout
In die hart van Korinte
ons liefde is vasgenaelstring
by die dieper lees van Korinte
daar waar genade immer
dorstong na nog meer wil lek
jou omgee maak blink
natspoorpaadjies
soos ‘n slak se spoor
en dit is in die hak
van die Wag-‘n-bietjie-bos
waar ons liefde dan vasklou
daar onder die Mopanie
op die eentonige note
van die sonbesie se sang
word die troebadoer
(diep binne jou)
se lied getoonset
dan in die flouflikkervuurvlieg
se skitter lig
drup jou gebede vir ons
met klanke van reën
op ‘n dorre somersdag
daar iewers in die
hart van Korinte
© Anzé Bezuidenhout
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.