Krap uit die see is die tweede bundel van die jong digter Fourie Botha.
Soos sy debuutbundel Donkerkamer, wat op die kortlys vir die 2013 Ingrid Jonkerprys was, sluit Krap uit die see aan by die debat oor manlikheid, wat sowel geweld, lyflikheid, die vaderfiguur, homo-erotiek en doodgewone huislikheid van twee mans wat saamwoon insluit.
Die see is ’n deurlopende motief, die oerbron waaruit alle lewe kruip, in gedigte oor familieverhoudings, die liefde en erotiek. Grense tussen lewe en dood, droom en werklikheid, mens en dier vervloei op surrealistiese wyse.
Krap uit die see / Fourie Botha — Protea Boekhuis, 26 Junie 2017; sagteband. — ISBN 9781485307570