Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
My Maroelastraat vriendin verhuis na Betlehem
– geskryf en opgedra aan Lizana Muller Truter
Kort en fyn arriveer sy toe die dag
Met haar Skapie hand aan hand
Ek wen vertroue, sy los haar by my
En daar begin ons band …
’n band van vriendskap …
Vertroue en sommer-net-praat
Hoe sou ek ooit kon geweet het
Dat jy sou geweet het hoe
Om my lewe so mooi te verryk
Om lemoentee so lekker te laat proe
En nou gaan jy weer …
Herinneringe in hand …
Ver, ver weg na die Jesus-dorpie toe
Nooit sal my kitaar kan vergeet
Van nagte se sing en se lag
NOOIT sal Maroelastraat weer dieselfde
kan lyk op n warm Somersdag
As ek net kon inloer …
Hello, is jy tuis?
Vra my hoekom??
Hier is ons nou – so verskillend
Jy kort, ek blond, jy sportief
Maar tog is ons o so dieselfde
Ons ken nou n vriendskap motief
Een van draaie, van op en van af en van aanhou en uithou en gee …
Geen afstand, geen tyd, geen temperatuursverskil kan ons dit ontneem.
Daar’s ’n band.
Mag die pad wat jy loop net gevul wees
Met geluk en met vrede en rus
Mag jy terugdink aan Maroelastraat kuiers
My kort mater vir wie ek lief is …
Daar in jou Jesus-dorpie
Ek dink nie dat jy ooit sal besef hoe
ek voel as ek aan vriendskap dink
Jou geduld met my kind, die vermoë wat jy vind
Om met jou kleine lyf en jou hart van n kind
So ’n groot impak hier te kom maak nie
En dan’s daar jou Skapie, my poplap
’n kind so na aan my nou …
Ek stuur maar n sagte klein hondjie
Dat sy juffrou n ruk nog onthou …..
Dis maar net totsiens, dit besef ek
Tog struikel my hart met die woord
Stap mooi, my vriendin, na jou dorpie
Mag God jou daar seën en omgord!
Wanneer ’n akkerboom val
– Ter nagedagtenis aan wyle Dot Fouche –
Wanneer ’n akkerboom val
Is daar ’n diep worsteling, ’n skeur
’n kraak
Die Here het tog immers
Hierdie boom so sterk gemaak …
Maar val die boom gewillig?
O nee, nie sonder veg!
Nie sonder geloof en hoop en bid,
Die boom weet dis tog reg
Om op haar Maker te vertrou.
Tog was dit nie Sy wil.
Soos sy val, skyn die son daar waar eens haar blare was
Dit skyn op ’n lewe
nou die verlede
van ’n akkerboom
Wat eens deel van hierdie woud van ons was …
Onder wie se skadu ons kon rus
En opkyk in haar blare kroon
En sien dat God, in al sy glorie,
Diep in hierdie akkerboom woon
Sy glorie
Sy dogter
Sy kind
Wanneer die akkerboom val,
Los sy ’n magdom van herinneringe
Los sy ’n voetspoor in die woud …
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.