Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Eindelose dans
Ek’t vandag uitgery tot by die strand. Moes oor ’n paar duintjies loop om die see te sien.
Toe ek uitklim kon ek die gedruis hoor. Die sagte wind wat op die golwe speel het my geroep.
Ek’t nader gestap oor die warm sand. Soms so sy-sag, maar soms klipperig. Die bamboes het oor die hele strand gelê, en ek kon die eensaamheid voel.. Die vermisting van mensevoete, -asemhaling, en -waardering.
Toe ek oor die laaste duin loop sien ek haar.
In haar vloeiende blou-groen rok, met wit valletjies. Die soutreuk, die lied waarop sy dans. Eindeloos.
Ek’t nader gestap en kon haar koue aanvoel. Ek’t gaan sit en geluister na die eindelose musiek van verlange, maar ook van aanvaarding. Sy het oor en oor haar skuimrok laat swaai en dit het haar passievolle dans vervolmaak.
My voete het weggeraak in die hitte van die sy-sagte sand terwyl die see ‘n koel windjie oor my gesig, arms en lyf gegooi het.
Die hoendervleis het opgestaan, want ek kon jou aanvoel. Daar by my, in gees en in hart.
Ek kon my oë toemaak en jou ruik. Ek’t my hand uitgestrek en jou hand geneem. My hart het oopgemaak, en ek’t oorgeloop, van pure euforie. Koue lug vermeng met ‘n warm hart.
’n Hart vol geluk en vreugde, met soveel liefde en lig!
(20/12/2012)
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.