Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Depressie
As die moegword van moedeloos
jou lewe oorval
En die lig van die aandag
by jou nie meer tel
Jou skaduwee geeste jou drome vervaag
sal die lus vir die lewe jou nimmer behaag
Die uitkoms is daar
die uitkoms is goed
Maar jy sal betaal met jou lewe se bloed
Met traan in die oog en traan in jou hart
Verlos jy jouself van die lewe se smart
Sag soos die wind in oggend se stond
so lê die dood vlak in jou mond
Die druis van verwar is al at jy hoor
want lankal is jy deur jouself vermoor
Bid vir jou skepper totdat hy jou hoor
of wil jy liewers jou lewe verloor
Genesing is daar
genesing is goed
Al wat dit kos
is ‘n bietjie moed.
Die Laaste Gebed
Ek sing van ‘n pad by die lewe verby
Van ‘n man wat dwalend teen armoede stry
Van ou flenter kos, uit iemand se bord
Wonder wat het van my lewe geword.
Die daglig is goed, dan strompel ek voort
Van aalmoes tot gawe, net God ken my nood
Mens tot mens, hoe wreed kan hul wees
Woorde wat kap en steek in my vlees
Waar is my werk, wat soek ek op straat
Waarom sou ek die lewe so haat
Ek kan nog onthou, soos gister se dag
Iewers en erêns het ek ook gelag
So sal ek boet, dag in vir dag
Bo op my skouer sit Bachuss en lag
Vernietig het hy, my drome in vlug
So ook gevat my enigste vrug
Die beeld van geheue, kom om te deel
Walms van drank, ek onthou nie meer veel
Een donnerslag, ek kon dit nie keer
My enigste kind, hy lewe nie meer
My kop op sy bors, my traan in sy bloed
Het hy nog saggies, sy pappa kon groet
Bid nog net eens, soos net pappa kan
Dan sal ek saam met liewe Jesus kan gaan
Rou snik na snik, ruk deur my lyf
Slap word sy arms, al hou ek hoe styf
Bid nou gou pappa,ek voel tog so bang
Blaas hy sy laaste, dig teen my wang
Ek is ‘n kindjie klein,
Jesus maak my hartjie rein
Dat daar niks in sal woon nie,
Net ek en Jesus alleen
AMEN
Droefheid
As jou siel die wroeging van droogte ingaan.
Jou drome in spervuur van lewe vergaan.
Jou toekoms homself van hede vervreem.
Dan sal jy weet wat die woord droefheid meen.
As die son homself by die donkerte skaar
en die sug van die wind val saam met die blaar.
Die krag van die leed onophoudelik reën.
Dan sal jy weet wat die woord droefheid meen.
As jou pêrel se glans in aanstond vervaag.
Die blou van die hemel jou denke vertraag.
Die oog van die maan stilswyend ween.
Dan sal jy weet wat die woord droefheid meen.
As jou herfs se kleur kartelend waai.
Die seemeeu se vlug in dwarrelwind draai.
Die einde van môre vandag al geleen.
Dan sal jy weet wat die woord droefheid meen.
As die gees van tyd jou liggaam verlaat.
Die pols van jou lewe jou nie meer baat.
Jou aandster vertroebel in sagte misreën.
Dan sal jy weet wat die woord droefheid meen.
As die poort van die hemel jou winkend vertrou.
Die arms van Jesus jou saggies omvou.
Die raaisel van gister gaan oop om jou heen.
Dan mag jy maar weet wat die woord droefheid meen.

Marius Coetzee
(Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za) Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.