Indeks van digters
Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Doodloopstraat
Elke dorp het ‘n doodloopstraat
waarvan al die mense praat,
met ‘n vreemde huis
waarom die bome ontoeganklik suis;
tog kyk iemand uit
en weet
almal het vergeet
van mense in ‘n doodloopstraat,
van wie almal praat.
Elkeen draai soms in ‘n doodloopstraat
waarvan al die mense praat,
willens en wetens, sonder visie op die toekoms,
sonder hoop op uitkoms,
om net te dwaal.
Terwyl die ure draal,
diep te teug van bittersoet genot
wat in die mond kom vrot –
genot van ‘n doodloopstraat
waarvan almal praat.
Die doodloopstraat,
waarvan almal praat,
is nie net praat nie,
nie net nog ‘n straat nie.
want niemand weet verseker
hoe hierdie beker
in hierdie hand,
by hierdie mond beland,
weet maar dis ‘n doodloopstraat
waaroor jy liewer nie wil praat.
Die doodloopstraat,
waarvan almal praat:
vergetelheid in agterstraat gekoop
gewete toe en oë oop,
oop vir sinsgenot
uit die Farao’s pot.
Die ligte lankal uit,
Satan soek sy buit
in die doodloopstraat
waarvan almal praat.
Balans
Is dit wat balans is –
party van ons wat salig onbewus is
en die ander wat bewustelik probeer
slaggate vol emosie te negeer.
Jan is gou met ‘n hou
en voel verplig om te snou
terwyl Koos gedwee die ander wang keer
al was die hou nog so seer.
Is balans dan nie noodwendig in die enkeling
maar eerder noodsaaklik in die versameling.
Die bewustes hou die versameling in stand
terwyl die onbewustes selfs hul siel verpand
om altyd die beste, slimste te wees
sonder enige nabetragting van die gees
waarin hul immer kompeteer,
of hoeveel hul op ander teer.
Madiba drome word werklikheid?
Drome word werklikheid
en word in ‘n deeltjie van die tyd
‘n vae herinnering,
deur ‘n nuwe werklikheid verdring.
Wat sal ek wens?
– dun is die grens
tussen vreugde en pyn,
tussen eg en skyn.
Hoe onverstaanbaar
en moeilik te aanvaar
alles wat die lewe gee:
vir ‘n dag of twee
net voorspoed en geluk,
dan weer eindelose druk
van aanhou en uithou,
van opstaan en weer begin bou.
As jy ophou en stil sit
dan is dit
vir altyd verby
sal jy nooit weer terugkry,
jou siel, jou wil,
word dit vir altyd stil.
En die wind waai,
en jy, jy saai,
en sal nooit weer maai.
Maar as jy opstaan,
sal dit aangaan
en jy sal saai
en jy en ander sal maai.
Mei – Junie
Die koper en goud van die herfs het verbruin en vergeel.
Eersdaags staan die boomgeraamtes swart afge-ets
teen môre-mis en vroeg-aand skemering.
Bedags soek ons son, loop op die krakende lane van koper en goud,
en snags soek ons die warmte van ‘n ander lyf.
Die opbrengs van die somer-oes is meestal verteer.
Slegs droë vrugte en neute is nog getuies
van die arbeidsloon.
En bedags soek ons die son, maak die mandjies bymekaar,
terwyl ons saans die warmte van ‘n glasie sjerrie soek
Spoedig vul die lug met vlokkies waterdamp
wat met koue en wind die kuns van vlug bemeester het
en in ‘n wonder-oomblik skitter in die son.
Bedags soek ons die son, stap verwonderd in die sneeu,
en saans kruip ons vroeg-vroeg in.
Vroeg-oggend praat ons met wasem-aksente voor die mond.
Die wat kan, berei hul vlug;
in Europa het die lente aangekom.
Maar hier soek ek en jy bedags die son
tot ons saans tevrede op ons eie werf onsself bederf.
Snelwegverkeer
Die wiele sing oor die teer;
binne in my is dit skrynend seer.
My gedagtes is ‘n warboel
en ek is een groot denkelose “voel”
Dan gaan my oë oor die stad
En skielik kom die muse, vat
Die silwer linte van teer,
en vleg beelde soos so baie keer:
Ek sien van silwer linte ‘n reuse spinnerak
gevleg oor bome, pale, elke dak,
(wie hou die punte vas?)
Duisende klein kassies wat op die linte pas
spoed daarop voort –
voort tot ‘n ander oord,
iewers waar daar rykdom is,
waar drome werkliheid is.
En ek spoed willoos voort
hoop daar is ‘n poort
na kalmte, rus en vrede
met geneentheid en liefde sonder rede.
Winterwit
Mevrou, kan ek maar die baadjie kry,
lyk vir my u sal nie so koud kry
in u gestopte Alpe-jas,
daar is seker ook nog ander in u kas.
Met die baadjie kan ek donker opstaan en gaan werk.
En Sondag stof ek hom af vir die kerk.
Saans gooi ek hom oor die kleingoed
hoop hulle slaap warm en soet.
Asseblief Mevrou kyk weer,
jou stewels van leer
het nog geen klip of modder gesien
as ek maar net genoeg kon verdien …
Vir my kinders vir pap en sous
en nou en dan ‘n lekkertjie vir die Kersfeeskous
– o, die botteltjie in my agtersak –
medisyne vir die spoke op die dak.
my vriend die wind
Dis dor en uitgedroog, net ‘n dop
waar lewe moes pols en klop,
maar ek ruik die wind;
ruik die druppels van ver af my kind,
bring verkwikking saam
van plekke nou nog sonder naam.
En my oë soek in die blou:
ek wíl nie meer rou!
Maar ek hoor die wind
in die blare, oor die gras my kind,
en ek wil liewer van voor af begin
al is dit met min.
Ek groet die nuwe dag
maar hoor niemand lag;.
ek voel die wind
oor my wange streel my kind
en ek sien die wind se wuiwende hand
oor die vlaktes van my land.
Nuwe lente bring nuwe lewe,
stoot die sap in litte en lede;
en ek voel die warm wind
tintel van lentelewe my kind,
en ék is die kind en weer ‘n nooi,
jonk, vol vreugde en mooi.
dis nou dit
en voor jy nog begin
word die ure in die dag al min
omdat vooruit beplan, besin
die take tot groter beelde spin
as wat jy kan ontgin
my klerekas is vaal
terwyl die awend daal:
geen opwindende skeppings
wat herinner aan afsprake en ontmoetings
wat jou noop
om los te knoop
en uit te spring
en ongeag, eenling,
die vreemde in te loop
moenie wag nie
daar is nie tyd nie
soek die wildste knoop
die rooiste sloop
skep met naald en speld
en net ‘n bietjie geld
elke middernag visioen,
met gepaste kraal en skoen;
beelde nou nog onvermeld
my keel word dik van wellende trane
my gemoed te vol om reg te sien
ek gryp na woorde
na skel akkoorde
om emosies uit te woed
– hoe swaar is my gemoed
breek die boeie wat knel
en laat ons laatnag vertel
van alles lief en goed,
van liefdesvrugte wondersoet
en met vertel sal dit stadig ontvou
die wonders wat jy eens in jou hand kon hou.
vee dan weg die trane
draai maar toe die krane
van Bitterfontein
skink liewer ‘n glasie wyn,
‘n heildronk op die einde van pyn,
lag vir die naderende nag
dit is immers die einde van wag
maar weereens staan ek in donker op.
stilte wat spreek van ander se rus
roep my na buite
waar die mensdom se donker ruite
geheime versluier
en niemand vertel wie kuier
waar hy nie hoort nie
want niemand sê ‘n woord nie
die mis rol aan uit die noorde
(maak dit saak uit watter oorde?)
oneindig sag die beelde gesluier in reën
stilte, vrede, belofte aaneen
van saad, van vrugte en groei wat wag
van nuwe groen, teer en sag
ek laat die stilte in my groei
bly afsydig, onbemoei
asof die hele fel geweld
van liefde, pyn, lewe, dood als wat jou ontsteld
laat gryp na waarheid, sin en troos,
my nie aangaan of raak nie,
so ….. dit maak nooit weer saak nie
slaan jou hardste slag –
ek sal uit my keel uit lag –
bring die digste duisternis
ek vrees nog lank nie uiterstes
lê ek uitgestrek, neergevel –
laer kan ek nie, behalwe die hel
van hoop en hoop vergeefs nog hoop
niks behalwe pyn sal in hierdie lewe tog nog rente loop
maak dus toe die boek
met een versoek
lees maar net
maak dit bietjie pret
om iemand anders se woorde
se sielsakkoorde
‘n oomblik duidelik te hoor
en so jouself te verloor
Herinneringe
Soos kosbare pêrels ryg ons herinneringe
in waardevolle stringe.
Pêrels wil gekoester wees,
wil die warmte voel van siel en gees.
In die stilte van die nag
na die gewoel en gewerskaf van die dag,
vat ons een vir een, vryf dit blink,
kyk diep, laat al die goeie insink.
Dié een is ma – ek sien al haar gesigte –
toe sy my vermaan het, toe sy my getroos het.
Ek sien haar met die skêr, “staan stil, dat ek die mousgate groter kan sny”.
Dié een is pa – ek sien al sy monderings –
sy kortbroek en geswete tuinhoed, sy fiets en werksklere.
Ek sien hom op die sokkerveld, op die hokkieveld.
Dié een is oupa Jan – ons sit voor die kaggel.
En die een is ouma Sarie – sy is altyd daar.
Dié een is my kleinsus Heubrie –
Ek sien die krullebol – van moederskoot
tot kind, tot vrou, tot ma.
Die een is Hennie, my kinders se Godgegewe pa.
Dié pêrel vra meer as net ‘n uur of so,
soos ook my kinders en my sus se kinders.
In al die stringe pêrels – aangetroude familie,
werksvriende, skoolvriende, sportvriende en kennisse
het elke pêrel ‘n besondere plek.
Soos die tyd verbysnel het die eerste pêrel
se spoed die ander pêrels aangetrek,
word die pêrelmassa meer en meer uitgerek
tot die somtotaal verder as die sterre strek.
Breek die eerste pêrel fyn,
bly net rafels in die wind.
Was daar ooit ‘n werklikheid of was alles skyn?
2015 einde Januarie …
2015, einde Januarie
en skaars het Februarie
gesig kom wys
of Maart se winde praat al reeds van ys.
Dit voel mens saans as die son gesak het,
laat jou wonder waar jy die wintersnoesighede weggepak het.
Die nabetragting oor die somer wat so te sê verby is
het baie gehad waarvoor ek dankbaar is:
My vyeboom, groot gegroei en diep in my hart
ondanks die die voëls wat wat dit lok om my te tart,
want díe jaar was die vye genoeg,
het ek nie verniet geswoeg,
het ek die regte lote gelos,
is daar vye by die tros.
Was die boom van die Kennis van Goed en Kwaad
In die tuin van Eden sonder saad?
En indien nie – waar het dit geval?
Op watter berg of in watter dal
sou dit vrugte baar
of is elke jaar sedertdien ‘n slegte jaar.
Want God roep en ons kruip weg
te skaam en sleg
te vasgevang in skuld,
kan ons nie Sy vlekkelose redding duld.
Ons drink liewer wyn
verdoof die wete en die pyn.
Geskiedenis
Van gebeure in woorde vasgevang
is niks nog van belang
nie gevoelens van verwyt of verlang,
nie skilderkuns, beeldhou, musiek of sang.
Die een geslag bly besig
met ontdek, uitvind, oprig;
laat reuse monumente na
waarna net die met geld op hul reise sal vra.
Terwyl die armes krepeer sonder brood,
daagliks stry teen hongerdood,
Seisoene kom en gaan –
niks bly vir altyd staan.
Die ‘wonders’ van die vroegste tyd
verweer en dra die tekens van ‘n stil verwyt:
dat ons met rook en roet en suur verslyt
versnel en prematuur die mens se spore wis.
In elk geval, as al die bouers weg is,
bly daar selde iemand oor wat nog wis
waarom die besondere ou snaar
so streng uitkyk vanaf sy pilaar.
As die snaar gelukkig is,
sal niemand hul vergewis van al sy donker dade;
hom afbring na die aarde,
waar sy kaal gebeente lank reeds verblyk.
Ad Infinitum
Die aarde en alles daarop, nee, die heelal en alles daarin,
sirkuleer, transformeer, verteer, hersirkuleer tot buite beheer en begin
dan maar net weer van voor af aan
te poog om die geheime te verstaan.
Wat was jy nou net, wat sê die wet
wat wag vir jou (of is dit nog te gou);
wil jy liewer nog ‘n bietjie bly of wil jy gly
af langs ongesiene strale, versier met krale
van klinkende zirkone soos spatsels trombone.
Die plant vat uit die aarde
en lê in die grond ‘n netwerk van are
om bo teen die blou ‘n trotse raamwerk te stel
wat wind en weer trotseer en van seisoene vertel.
Droogte, reën, hael, diere, mense, peste kom en gaan,
terwyl bome stil en sonder kommentaar daar staan.
Net die jaarringe sê sonder woorde wat is meer:
swaarkry of die vreugde van son, voëlsang en veer.
Jaloers kom die mens, ontsien jare se groei en oorlewing,
stroop die woud en los nie eens ‘n enkeling.
En jy, Boom, opeens is jy net nie meer hier nie,
voel jy nie die wind in jou blare nie,
of die warmte uit die blou op jou kroon nie;
toe jy trots gestaan het, het jy dit nie waardeer nie.
En jy, Mens, jy wat nie al die jare van die boom geken het nie,
kom stroop, want jou gierigheid en wellus vra nie vrae nie.
Jy vermeerder tot die aarde kreun van die las en uitroep van die pyn.
En tog bly jy dronk van jou eiewaan, verblind deur twyfelagtige sukses se skyn.
Onder die brug
son wat op die water spikkel-flonker,
skadu’s rondom, onder bome mikke-donker,
een middag, duisend maal herroep –
seker nog tot ek op die stoep
my laaste dae slyt
met herinneringe sonder spyt
jy sal nooit weet nie
en ek sal nooit vergeet nie
of dit waarde het
en of dit gehad het
maak gelukkig nou nie meer saak nie
en sal niemand meer traak nie
Lees in die Koerant
Mev. Betroubaar van der Standvastigheid
is onlangs op 98 jaar as gevolg van ‘n siekerigheid,
in haar slaap oorlede.
Sy was een van ons eerste inwoners –
van gedrag, talent en persoonlikheid besonders –
Toe ons op snelweë begin ry het, kan jy onthou,
Was ons gemaan om in ons baan te bly, nee toegesnou:
“Is jy ‘n rondspringbok?”
So bestuur ons die lewe ook.
party wyk uit, soek die pieke, terwyl die ander op een plek spook.
Jy wil seker weet wie is reg –
Is dit hy wat elke skuif met nadenke en oorleg beplan
Of is dit hy wat wag vir die kruin van die golf,
sy spiere span en spring
ongeag waarheen die stroom hom bring.
Waarheid is, in elke oomblik kan jy net besluit
volgens dié oomblik se wysheid.
Het ek maar, dalk moes ek
dien geen doel op die lang duur,
kom net die nou versuur.
Na die lig
Minute word ongemerk ure.
Die ure word dae
waarin gister en eergister vergly.
Wanneer het dit so stil geword,
die huis so leeg
en die kamer so donker.
Hoe het ek hier gekom,
by hierdie plek van net maar wees.
Waar is my hart heen en waarheen my gees.
Soos die sap in die wingerd
saam met die maan opstoot in die takke,
so sal my siel opspring in my binneste
as ek oor Sy grootheid en genade sing,
word my treë vlug
soos ek spoed na die Lig.
Nostalgia
I sit close to where we dreamed,
where the passing of time seemed just a colour of the day,
there was so much to say, to savour, to share
and maybe the truth when we dared.
But all the pictures in my mind
were just illusions of some kind.
Your illusions and mine
simple excuses for celebrations with food and wine.
When all were done
the benefits were none
but memories to recall
when the future is a windowless wall
with no door.
Winterbome
Die somergroen van digte loof
is deur die winter totaal geroof.
Die bome staan daar kaal, elke knoets ontbloot,
staan daar oud, moedeloos, asof verstoot.
Onthou hulle die somerdrif in die are
soos van al die vervloë jare,
die sap wat uit die aarde boontoe bruis,
die wind wat deur die blare suis.
Of staan hulle maar net,
verstrengel in hul eie gedagtenet
vasgevang, onlosmaaklik tot oordenking gebind
totdat die lentewind hul vind.
Vir nou is die musiek van die voëls in hul takke grafstil.
Die koue het ‘n traagheid gebring, sonder wil
tot uitreik na nuwe hoogtes of groei,
sonder verlange na nuwe lewe se bloei.
Die oues peins en tob, versink in die stilte
van nagte se ys en daaglikse kilte.
In stille versugting staan ook die jong boompies
en smag na die loomheid van die somer langs kabbelende stroompies.
Alzheimer’s
Waar stap die ure heen
alleen, alleen, so alleen
sonder mense, sonder stemme
of geluide van voëlsang en wind –
vol van soek en nie vind.
Sou die beelde van dink en doen
so intens met vacuum versoen
dat daar geen buitelyne meer is,
geen vreugde of hartseer.
En niks gebeur weér.
Alles is een groot wollerige, wasige newel
Waarin niemand oorwin of sneuwel.
En waarin geen getuie was of meer is.
Het almal hulle dan verges,
Was alles maar skimme in die mis?
Prentjies in my kop
Straatjies in Mauritius sonder sypaadjies,
woonstelblokke soos kaste met laaitjies
waar mense in holtes en gaatjies
‘n lewe leef, elk na sy smaak en geloof
waarvoor hulle offer, hulself afsloof.
Honde, alle rasse en soorte gemeng
dwaal in die strate, op soek na iets om lewe te verleng-
dis verplig – die Hindoes glo leef en laat leef
al is hierdie hars en dop hoe skeef,
kan mens nog gebedslintjies in die bries laat beef.
By die terminus busse en mense wat wag
vir die tyd, die uur van die dag
wanneer lywe uitgeput in busbankies sink
om deur die venster te tuur sonder dink
net uitsien na die aand se eet en drink.
Die mark het vreemde groente en vrugtesoorte,
mandjies van elke denkbare grootte,
rokke, serpe, sakke (alle soorte),
borduursels, armbande, krale, ivoor
al was hier nog nooit ‘n grootoor.
Kunstig gesnyde pynappels saam met die hitte laat jou watertand
gelukkig word dit sommer verkoop uit die hand,
kan jy kies – met of sonder kerriesous-
die ou is ‘n goeie smous,
kou jy gou en sluk die koel pynappelsous.
Meeste arm huisies het dakke van beton
om later vloer te word vir nog ‘n vlak as dit kon –
want Februarie is sikloontyd
en sinke sou jy moes soek ver en wyd
na so ‘n storm en stryd.
Besoekers sien net witsand strande
bly onbewus van arbeid van ge-eelte hande
wat vir almal van verre lande
moet sorg vir ‘n bietjie plesier
en moet toegee aan hul elke gier,
Vir laas kyk ek af en sien die see, groen-blou
soos ‘n spieël onder ons oopvou.
Die eiland dryf in die golwe soos ‘n reuse juweel
waarop mense baljaar en waarom dolfyne speel
met perfekte choreografie, altyd bereid om hul skoonheid te deel.
Nuwejaar op Geluksdam
Môre is weer Nuwejaar (en Oupa Jan
verjaar).
Almal sal hier vergaar:
familie, vriende nogeens almal bymekaar.
Ouma Sarie hou die leisels met geduld en
liefde vas –
die tannies – tannie Miem, Miempie en
Tiena – moet die disse netjies pas.
Boeboe bring die droë skaapbossies van die
veld,
stook die buite-oond met toewyding en
geweld-
die Ounooi wil ‘n warm oond vir die tertjies
hê.
So nie sal die volkies les opsê.
In die koeler agter die huis onder die
bloekom
kom die gemmerbier tot wasdom.
Kinders probeer kort-kort proe
van konfyttertjies en bier, maar Boeboe
sien alles en maak betyds alarm.
Dis somer en op die plaas is dit warm,
soos dit net in die Karoo kan wees.
‘n Loomheid hang oor die veld, skaap en
bees.
Van vroeg af kom die pêrekarre by die
voorhek in,
ry windmaker by die laning peperbome in
en gooi ‘n wye draai voor die opstal.
Hartlike gegroet en gelag vul die lug.
Kinders verlekker hulle met neefs en niggies
lanklaas gesien, hardloop en gil van pure
plesier.
Aanstons moet die oudste niggies gaan
help.
Dan staan die tafels gedek,
Jy kan maar solank jou lippe aflek –
maar vandag eet die kinders eerste
(anders as by meeste familie feeste).
Die tannies bedien hulle, aartappels, vleis,
groente, beetslaai, rys
en eindelik gestoomde poeding.
Daar was trippense in, eers gekook.
As jy nie één raakgebyt het nie, het dit lank
by jou gespook.
Die grootmense sit aan met wyn by die ete.
Die kinders het al weer gaan speel met die
wete,
vandag is die verpligte middagslapie
vergete.
Tussendeur eet hulle konfyttertjies,
drink hul gemmerbier en kry by oupa
winkellekkertjies.
Laat-laat middag word die pêre weer
ingespan, die kinders geroep om te kom
groet.
Selfs na die laaste pêrekar deur die voorhek
verdwyn,
bly die gees van welwillende samesyn
soos balsem oor die opstalle en lanings
hang.
Herinneringe sal deur die jare nog getuig
van Oupa Jan en Nuwejaar op Geluksdam.
Hennie
Kreukels van lag by die hoeke van jou oë
onder gevlerkte wenkbrouboë.
Jou songebruinde vel verhelder deur flitse
van kerslig se blitse.
Ek kyk peinsend, betower.
Jy kyk op en verower.
Jou stil, bedaarde glimlag,
soos lente na die winterwag,
laat dit warm word in my,
maak my menswees bly.
In die donker in jou arms gevou,
koester ek my en bly vertrou
dat dit altyd so sal wees –
JY my vesting teen vrees.
Jy word my skild teen leed
wat my met liefd’ oorreed
om elke nuwe dag
met blyheid te verwag.
Ek dank die Heer vir jou
en bid dat Hy jou veilig hou.
Kromdraai se boeresport
By Kromdraai se boeresport
is die broekies styf en die rokkies kort.
Die lywe rooi gebrand,
speel die kinders in die sand.
Die spiere bult en lywe sweet
tussen baie lag en lekker eet.
Perde maal in die stof
tot hul langmaanhaar in die eerste skof.
Wulpse meisielywe vlug en lok
so om die beurt die bok,
tot hy rasend hyg,
oor vrou en kind maar swyg.
Die vrouens lag so uit die keel,
is min gepla met soentjies-steel.
Genoeg om stil te sit en puf,
hul susters met ‘n pouz te bluf.
As die son die aand kom sak
word alles opgepak –
ook die wellus van die dag.
Vergete is die skril gelag.
Môre dra hulle weer
“mevrou-skoene” – egte leer –
trek die rokkie oor die knie
sê nie pruim nie.
Indeks van digters
Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.