Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Breekwater
[nie alle dae
is so vervreemd so dié een nie
en niks
so beduidend afwesig
soos die aandag van jou oë nie]
en tóg is hierdie nie verset teen die skipbreuk nie
nee, miskien net verbittering
of ‘n verbete vloek (en skel)
teen dít wat onverteerbaar is
jy in jou rusplek
en ek
ek in my sidderende vleuels
wat nêrens asiel vind nie
nee, hierdie is nie verset nie
maar ek braak met ‘n mond wat bloei
oor bulderende skeldings
van joú
wat oor bloedgrense heen
want êrens moet jy tog meer-méns word
meer ék
sonder dat jou aarde hoef te skuif
want ek sal jou herroep
maak nie saak wát nie!
ag here hierdie is nie (weer) verset nie!
maar die vreeslike vrees van verlies
soos om drumpels oor te steek
sonder ‘n groet
nee here
hierdie is nie verset nie
maar die fok weet!
net ‘n biétjie minder breek
sal die dwalings
minder wreed benoem
© A Marais 2017
Die onseremoniële koebaai
herlewings van jou
fok my op
en die gruwelose gapings (tussen ons) dalk meer
soos die grootste een op die tweede dag
van ‘n nuwe Januarie:
toe jy ewe onseremonieel
en per webruim (nogal)
tot binne die gleuf van my
reeds-deurweekte hart
die jirre weet!
‘n grag van my binneste maak
met jou: “mooibly Mamma”
en soos die koms van ‘n tweede dood
op ‘n doodgewone dag
my laat ophou bestaan het
om te verdamp
soos die greep van ‘n rustelose en afval-asem
© A Marais 2017
Pasiënte nege-4
streng gesproke en geskryf
kon jy nog geleef ‘t
maar toe ruk die dood jou
soos ‘n verlepte jaar weg
en word jy wyd vertel soos die opvolg
van onskuld
en ‘n gesneuwelde blaar
en ek het met leed daarvan verneem
leed en ‘n verslane glo
wat my laat voortdig
in ‘n woedende liturgie van trane
want hoe is dit dat jy ongesiens geval het?
en hoe is dit
dat jou bloed nou ‘n klaaglied ween?
jý wat stil dog eksplisiet uit die lewe geruk is
en het jy godsgesig gesien?
het jy god gesien?
toe jy Windverwaaide die afsluit weerklink
soos die klank van onreg
en ontkenning
het jy god gesien?
of het hy hom óók verset
soos hierdie vers
sonder nuuswaardigheid?
en sonder klag
jy wat ongesiens verbygegaan ‘t
verby soos ‘n teensang van gees
verby
soos die niksvoel
van hierdie doring in die vlees.
het jy god gesien?
© A Marais 2017
In utero
soveel skreiende sonne se op en neer
het ek jou terug in my gewens
terug
om ons somer oor te begin
soos ‘n nuwe en behorende dag
en onder soveel skrander mane
het ek doelloos bly drentel
deur die droef
wat ek wéét
jou skouers moes vleuel
want ek het jou
in utero
‘n vrag wonde opgelê
en soveel mooiste mooiste maande
het ek jou naam hersê
om buite die mankige melankolie
van ons seisoen te staan
sodat ek jou wórdend
en waar kon maak
soos die bot aan ‘n eensaam tak
want jou sagte rowe
het aanhou bloei deur my hand
soveel verskeurde winde later
het ek jou steeds terug in my gewens
vir ‘n inheemse oorbegin
want jy was immer
vir fyner dinge bedoel
maar ek het jou (reeds)
in utero
‘n vrag wonde opgelê
en noú
noudat ek verby jou bloei probeer breek
sê ek jou naam heelhuids
en skoon
soos die dradrag van suiwerste saad
en behou ek jou
verby elke stilte
van my afskuwelike afwesigheid
© A Marais 2017
Miss Black
Hoe kan ek jou in lig laat staan
as jy die haelvlae van swart
so brutaal perfek vertolk?
en hoe kan ek jou oë se kabbelings
duskant hul groen erbarm
as elke storielyn
die ritselings
tussen biesiepol
en bloed vertolk
ek weet mos reeds
dat wêreldwaters deur jou reën
en ek weet van die seer
wat ‘n swartroos
so bitter nimlik geur
ja ek weet
só lankal
die uitspoel van jou volmaakte smart
© A Marais 2017
Toe dit stil word
ek dink ek was nét tiener
dalk so dertien
toe jy daelank op die bed gelê en huil ‘t
ek onthou Ouma ‘Toit was daar
haar stil teruggetrokke grimmige self
en jý agter ‘n toe deur
soos soveel ander kere
toe jy siek was
maar hierdie keer was anders
en jou trane meer
die deur langer toe
ek weet ek wou nie hoor toe jy die “k”-woord
na daelange voorbereiding sê nie
en ek weet ek was kwaad
meer bang as kwaad
want daai dae was kanker ‘n ander woord vir dood
ek onthou hoe almal in ons stil
2slaapkamerwoonstel
kom kuier ‘t en kos moes bring
en hoe dit nooit die klank van “niks” weggevat het nie
ek onthou die oë
die “ag-jirretjie-tog wat van die kinders oë”
en hoe oorverdowend stil dit was
ek onthou die dominee was daar
met die paslike gebed
en jammerhartige handgebaar
soos die een op TV
ek onthou ek was bang
ek onthou die hospitaal
ek onthou die wag
ek onthou hoe stil dit was
ek onthou dat ek bang gewees het
ek onthou jou hand op myne
en hoe jy ewe nonchalant my bewerige vingers
oor jou sny laat gly ‘t
sodat ek wéét en voel
en nie moet skrik as ek dit sien nie
ek onthou jou nuwe bras
wat níks na jou boob gelyk ‘t nie
ek onthou die mesmerk deur jou bors
en dat jy toe nooit ‘n tepel laat aanwerk ‘t nie
ek onthou jy was ‘n survivor
borskanker nógals
en hoe jy jare later
wéér die nuus moes kry
en hoe dit verby jou bors
na jou longe
niere
maag en
bloed
ag
wat bly oor
versprei het
en dat ek toe weer bang was
maar nie so bang
soos toe ek jou kis die dag
uit ‘n stiller kerk moes dra
© A Marais 2017
O suster van my!
lig jou voete uit gister se gruwelike puin
en roet wat jou verwoed ingebrand
laat leef asof jy verduurde as is!
sprei jou dubbelgeveerde
skouers bólangs waar jy kleur kry
in die houvas van die son!
want jy verdien om somer-deurspoeld
te staan en te vermeerder in lig
& Lig jou oë
soos oopgehorte vensters
en sien! sien hoe jy buite die status quo
van Opgetelde staan want ek sién jou!
en ek weet van jou soos ek weet van myself
en om hemelsnaam hou op!
óp met die kulkuns van jou gekerfde lag
want ek sien jou pyn en weet van jou
agter elke gegletserde kyk
ek weet want ek was daar toe jy breek!
ek was daar in jou gister
toe patriargale omhelsings jou misgekoester ‘t
en jou voete nie vinnig genoeg
‘n skoot kon inadem nie!
ek was daar toe Siembamba seerder was
as ‘n lied
in die drankdeurdrenkte gange van tyd en plek
en ek was daar!
daar toe jou verstaan van liefhê
tot verwrong geskaad is
daardie Eerstelief wat jou hart
soos ‘n riet gebreek het
ek was dáár!
daar toe jy ‘n flikkering van ‘n Ma word
die één wat op water kon loop
en nou op kraakgrond staan
want jou kinders het van jou hart vergeet
en jou beste was nie goed genoeg nie
ek was daar toe alles tot stilstand kom
en een laaste wink
jou Ma geword ‘t
soos
‘n niet
ek was daar toe jy moes leer van dood
en die dag toe dae ophou skyn het
ja ek weet van jou
en ook hoe die geweerloop van tyd
jou dae aan sekondes meet
tot in die onderste laag van jou gees
want die vlees het lank reeds afgewyk
van koel briese en godsalige nagte
van sweet
ek weet
ek weet ja!
dat jy roubande oor jou hart moet trek
om deur nog ‘n dag te kom
al bid jy
al bid jy
al bid jy
van die hand na die mond
soos een wat die minste verdien
en ek sien! ek sien hoe jy klippe kou
terwyl jou vingers die vaardigheid van sag moet in
ek is daar
as die son sak soos ‘n nag sonder sterre
want ek wéét van jou!
en ek ín jou soos bloed van my bloed
want my hart pols-pols-pols
die bitter nadraai
van omkeerbare onverstaanbare
arms vol seer soos joune
en my voete watertrap
in onvergenoegde seë
tot ek jou anker
in my hier en noú
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.