Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
charlotte
die straat
is stil dis sondag
en verpleegsters
dra die mense op
die skouer en
daar’s iemand
sonder been
en iemand met
verbande
en die manne
met japonne
sit die stoele
stukkend in die son
en rook
en mag nie
en weet dit
ja
die warm wit vrouens
en die olierige hare
loop so af
en toe so regs weer
by apteek verby
en lyk soos wonder
werk die siekte uit
hul siele uit
die kinders speel
nie nou nie
iewers bo
nou uit die pad uit
links bo om .n hoek
in nommer twee
ek dink
die skool is
mos net weeksdae
in die geel lokaal
met
plastiekgras en klimraam
wat die kleintjies
nie kan klim nie
en net oorkant
hospitaalstraat
dra die muise tande
weg in stukke
los nie geld nie
los net gate
wissel woorde
in die mure waar
besoektyd almal
in die hysers stop
en op en af
en heen en
weereens tussen
drie en vyf draf
mans en babas een
tot twaalf mekaar
rond want
hy mag nie kuier
nie meer wag nie
kannie by die huis
bly nie
en teen die mure
rys die vloere
dun gepolitoer
van jare lange dood
gesond word
jy
mevrou
seblief hou kop
jou hande om my
pa se hart
jou vingers by
my stad se nek
jou oë
gerig op wolke
en die son
en bene sterk
so sterk soos ons
moet wees
binne
jou are
X
SIT OP DAK KYK UIT OOR SOVEEL SINKE IN DIE KLEURE VAN DIE TORTELDUIF GEGRYS BEWOLK MISLUK TOG MOOISTE FOKKEN UITSIG EN DIE KOP VLIEG OOR DIE SKOORSTENE EN SKOTTELS SKOPPELMAAI MET KLEINTJIE-VOëLTJIES WAT OP TV-MONUMENTE SIT JA EWIG ENIG OERDIERE WAT VEER GEHOUE HOU DIE WESENS VAN DIE WETE DAT GESTRES JOU VINNIG DOOD MAAK Lê NOU VLERK GESPAN OOR TEERPAD MAAK SY GLIMLAG PERMANENT GEVERF IN ROOI EN BANDAFDRUK MET ROTSKUNS-LYNE INGETATOOEëR IN WANG HERINNERING VAN DAARDIE DAG OOMBLIKLIK PERMANENT DAAR BLY VEREWIG IN DIE SPIEëL DíE KYK VAN JOU WAT NOOIT UIT MY VIR MY VERLAAT NIE SIT GELUK NOU OP SOOS BRIL
X
my liefde
ry op
storm
kom galop en
dra my hart dra
vere in sy linkersak
gekoester teen
die wind en
weer
herhaaldelik die
towerkuns
met botter op
sy brood gesmeer
my oë
konfyt van vy
vir my
en pannekoek
wyl druppels by
die glas
afrol die water
in die nessies
lê die plassies
op die droë grond
wat dans met wiele
sing die kore
aard en water
ek en
jy die spat en drup
langs geute af
en iewers
in die vêrte
grom my maag en
dra die donderknal
’n boodskap van
wat liefde
maak die weer
’n keerkring
om my mond
die dink nou lyne
in my wang
my vel ’n rekord
van my pad
en almal sien
as ek jou dink
dieselfde as
wat weerlig op ’n
strand kan los ek
ken die plek
van waar
dit kom na
vore as die son
weer skyn
die nat weer droog
die lag weer pyn
ek wens
dit vloed ek wens
dat elke ding verdrink as moet
solank ek
ewig
in die wolke
seëninge kan staan
die reën
die reën
ek het jou lief
X
mosterdsaad op
tong lek nou
die plek
agter my oor
praat uitsluitlik
hou omhelsend
vas
gebonde aan jou
vlees die stukkies
van jou wat
geroes vermom
die waarheid in my
sien die woord
wat skepping bied
aandagtiglik jou oë
jou kyk in myne
sien vrywillig hoe
jou swaard gaan lyk
jou kis die
pakkie van jou lyf
die tronk gebou
om weg te hou
te bly van
ware stem van
ligte in die strate
ek
sal wag hier
al verlate
bloei my liefde
deur my neus die
kleur eenselwig
met my hande
trek nou strepe
teen die muur
voorspel die berge
wat geklim moet
word
X
luister met ’n spits-oor
dink die lyne deur die techo drink
die nabyklanke in soos tee
ek sien jou vinger in die lug
druk punte in die atmosfeer
grimeer klein glimlaggies
langs naakte lip vir
musiekgod dans
die swaai van lid
en knik van kop ek
voel die note deur my trek
dink terug aan jonger dae
toe ek fietse nog gery het
in my kortbroek oor die veld
en speel met dooie stok gekyk
hoe dinge terug
na oorsprong gaan
soos toe ek moes besluit
hoe om die pad te volg die
klanke van my dieper-sien
ek hoor skryf
elke ene neer
X

Tania Olsson
vir ons, ’n dag-op-dag verbintenis
’n naat
’n nuwe broek gesny en skoene
onder nuwe bed en nuwe sterre
ons is saam,
deur gate en die onverwagse
ons
en in die oggende
verstaan
dat elke aand is dood sonder mekaar
dat
elke sonsopkoms blaai strate onder brug
en maatjies sonder woorde
is mos nie veronderstel om so te maak nie
vat my hand op die regte plekke
altyd
ekke smeek nie
ekke vra nie,
weet net
ons is
regtig egtig op die regte plek

Tania Olsson
maak
of niks gebeur nie
niks bestaan
nie regtig in
my bors nie dra
my hande in
jou sak ek dra
jou hande op
my skouers lam
van kruk moet speel
van bokssak nate
oopgebars soos
ekke swakker
soveel perskes in
die reën te veel
te vinnig te
verskoningsryk
te grys te af
te naby
te gemaklik
heel
te mal om sin te maak
ek mis
ek bewe in
die donker uur
vir jou
gesit op kas
heilige rak die plek
waar haat verdamp
verdwyn die vrees
die byt
ek wag dit uit
die liefde ál
wat in my
dwaal die spasie
tussen
ek en
jy

Tania Olsson
statig by die trappe af die deur verby begrafnis van my diepe kwaad die einde van my diepe my.
die asem oor my lippe maak nou dou hier op jou wimpers en die reuk bo-op jou voorkop ryg jou deur my brein verby.
ek weet van hoe jy nou maak ek het jare lank gespeel ek kyk van vêr af al hoe breek my hart my moed verstand en siel.
die skone waarheid ongelukkig lyk nou meer en meer soos mis en al hoe nader dit bekyk word al hoe vinniger verdwyn die stukkies water van gevoelens wat so hang-hang in die lug.

Tania Olsson
verstaan jouself
met arm op been
houvas aan
dieselfde rak
verdraai jou lyf
spirale in
my lewer en
my niere in
gesteek met mes
verbrand met
sigaret
die gate val so
in my in
ek praat met
brandmerk krap
aan rowe bloei
in geel en pers
en groen ek
dra jou gluur nes
diamant nou in
my sak bereken
nou dat al wat
ekke is vir jou is
as diep onder
binne jou oond verskroei
in aandpak
voor jou deur ek
sien nie meer
die wonder in jou
nie die kers
wat in die venster
hoort te sit nie
net die
donker dae uitgelê
vir my
nou sonder
traan voor alles
wat jy
dink jy ek sal
ooit
jou hoor as
al wat myse ore sien
is wat jy niemand
wys
nie
Mis.
ek sit nog steeds en dink
aan jouse hare
klosse goud en silwer in die son,
soos jy jou kar verby
polisiemanne ry
ek voel nog steeds
hoe jouse asem in my nek kom
slaap, en steeds hoe diep jou
hart binne my hart kom lê
en proe nog steeds
die sout van jouse vel,
van jouse sweterige vel
en lig
vul daagliks nog die longe
van die vrou wat klaar aan
god beloofd is
aaneenhoudend
nes die ruitveërs
in die donker vieruur middagreën
en hoor
hoe alles in my skree
vir jou
om net een keer
nog meer
net langs my
aan die slaap te raak
.
dese hoek
geskik vir viking blondgespikkel
met die afrika se middelson
hieronder in die kelder waar
sy ouers hom gelos het
vir die aasvoëls
en die mure en die kinders
om te koggel en beskinder
rondom witbeklede nagmaaltafels
plekke
waar die mannetjies mekaar
met messe eerder leeg sal tap
voor enigeen
van hulle woorde oor haar
ooit publieke lig sal sien
want
koninginne mag mos nie
so maklik by
gekom mag word nie
syse beeld in water is
bemin deur hyse self
nie daar
is modder in dai put se opbrengs
krappe in dai een se kop
.
Die volgende is sewe.in.een
1.
draai om en om in blare
met die pyp
wat in jou hande hang
stap rustig deur die
strate van die weste van
die land, hoor plek-plek
honde blaf
vir my soos ekke
blikkies skop
en sade trap tot
binne-in die rooigrond in
en bakstene gepak
gemak verorber in die rand se swak
want, manne moet mos kinders voer en almal
moet mos besig wees
daar waai ’n kind vir my deur hek
met veertig jare aan sy blad
en ek waai terug
met liedjies in my kop oor
hoeveel van ons meer geluk
kan kug as ander
?
2.
en in my sole
een vir een die teer ontmoet
begin die diepstes in my bors
te asem vir ’n nuwe kans
’n nuwe mens te wees is vir my pad
en in my siel verstrooi
en duisend stukkies blinkertjies
sweef saggies deur die wolke neer
gesit in jouse skoot
vir alles
wat ek jou beloof
het jare lank vir my gesoek
deur strate flou
belig met siek bloekompale
wat al heeltemal te lank probeer
om jou
te wys wie ekke is
jou blinde
mol
.
3.
en
daardie ander kant van paaie
staar my aan
met oop oog
en oop hand
en toe
meshand agter sy rug
staan hart vierkantig in sy skoene
waar hy my bestaar
met ‘lekrifisering om sy bors
lat niemand naby kom nie
nie eers die posman nie of
die ou met die koerante nie
daar
sit hy nou met hope van die goeters
wat niemand meer wil lees nie
onder ’n boom
op die groen
gras
.
4.
en prentjies van jou lyne
sing in my
en in my geheue
ek’t pikswart klere aan
en rooi hare gehad
toe ek laas so met iemand
in my kop gespeel het deur oor die aarde
sing my stem en
dans my voete hierdie bannelingskap
in pepskoene
met net die klankbaan van my
veldtog vir nuwe afrikaans
wat kaapse winde dwarsdeur harte waai
en trane wegwaai
vir die res van tyd
en niemand
sal weer ooit ’n hark hoef hark nie
oor my tuin nie
ek
sal self my blomme plant
en self
my eie mure bou
.
5.
en sagte voëlsang
dra die min wat van my oor is
oor die besige strate
waar die karre fokkol omgee oor ’n voetganger nie
huppel
liggies oor die klippe
by die randsteen op en af
waar jy bly met jou uitsig
oor my heelal
en al die stof
wat alles in my bymekaarskraap
toegegooi met grys komberse
van die tyd
want in my in
klop eeue lange liefde
al word ek vandag met kar getrap
en my weet niks
van niks af nie
.
6.
en onder die home
staan maatjies sigarette stook en vat
aan mekaar se bene
daar
waar hulle dink dat niemand sien nie
net
die twee op die trappies
wat alleen sit en praat
oor die sterre
hulle’s reg om so mos weg te kruip
want daar
het nou al twee keer nou
polisiekar gefokkof in die pad af
sonder om te stop
dat hulle eintlik
in hul skoolklere sit en kak aanjaag
gelukkig
maak ’n man ’n vuur
net duskant waar die groepie
kuier so
dat niemand worry oor die rook nie
en ek rus
’n bietjie op die muurtjie
langs die parkiegras
en dink
aan of ek ooit weer so met jou kan praat
.
7.
verbeel jouself
dat drome in die werklikheid
geval het dat
realiteit is net wat ons dit sien
en dat
jy altyd in die regte plekke is
verbeel
dat niks is kak nie
niks
is fucked nie
alles is net wat dit is
soos dit moet wees
altyd
al is die kinders dik en
ouers vrot
al loop die honde op jou kop al
dra my al wat jy besit
in checkers-sakke op jou rug
en slaap jy
net waar jy gaan val
daar’s niks
meet oor nie
niks verloor nie
al wat ons kan doen
met hierdie lywe wat mag voel
is voel
en seker maak
dat jy net na jouself kan kyk
.
boer in die sloot. WWI
hy sit in sy graf en skryf vir sy
ma en huil en trane rol in sy keel
af rou gebrand met mosterdsaad wat
almal hier se voet binne gate onder
bome langs die koringvelde in die
woude diep begrawe in die lug en
dink aan warm bene wit
die kleur van tande eens van oë
nie meer want modder muf sy
hare en sy toonnaels tussen planke
in die modderpoele wat getrap
word deur die voete van sy broers
se bloed en god se seën en hou
sy ma se foto in sy linkerhand
in regteroor kanonne in die agter
grond en bid en bid en dink aan
sy ma se hare en die reuk van
haar sagte vel haar wit melk
vel die kleur die hunker na
skoon plekke wat ruik soos bloeisels
en soos appelkose en die
reuk van warm aande soos hy sit
en wag in sy graf in die gat
in die grond met die doringdraad
om en die yster van die bloed
en die vrot en die dood
elke keer
ek droom jou gesig
ek droom die lyne
in jou gesig
ek droom die kante van
jou wenkbroue en ek
droom die sterrevelde om jou oë
op jou gesig
ek droom jou stem en
jou hare en jou hande en
die spiere in jou kieste
en jou gesig
ek droom jou elke nag
en dag
en elke keer as my wimpers vlieg
en dit hou nie op nie
jou gesig
in my drome
nie
sirene
op die sideline met ‘n byline staan die man met blou skoene dra sy hart op sy gewrig verbrand met naaste in die kas onder die trappe met ‘n kussing in die bad
in oggende van onverkende paaie staan sy langs die tas wat langs die man op die grond lê by die busstop waar die volgende rit sy hart sal wegdra in die bus waarvoor hy wag in die pad in die middel
daar in die swart rivier met die wit en rooi klippe daar in die middagson kyk sy uit oor die water na waar hy wag en praat hard sodat die klanke tot in die middel kan kom en sodat hy kan hoor dat wiele gou op pad is om die golwe vir hom groot te maak dat hy verdrink in diesel
met haar luidsprekerstem in die golwe kyk hy stip na voor en staar die toekoms in die oë en dra homself op aan gode wat die water dan in klip verander en die trane van verlange nou in sand draai in die hoeke van sy gesig
kom terug skree sy oor rotse kom weer terug na die oewer toe waar tone saggies oor die oppervlaktes gly en blomme in die modder huise skep vir skepsels van die klei
gaan weg hoor hy want water raas en maak haar stem stop inn die wasem en verdraai haar sinne so dat al die liefde kan gebruik word as sy messe om die laaste toue van haar hare af te sny dat hy kan dood kan gaan in vrede sonder iemand wat die strand daarna weer sout kan maak
dra lig
ringe binne ringe soos my kop die patrone van my denke nou bekyk van in my oë af en die kleure in my draai gedraai met kraletjies en blinkers en gaan aan en om gaan deur my voorkop en my neus
en dink ek nou vir self myself kyk op nie in nie op by bome op in take in waar nessies in die nagte warm dons reg om my wange trek en op na muis op vlerk en kyk hoe duik die wesens in die aandlig in en dink aan hoe die waarheid slegs ‘n spieëlbeeld van die wêreld deur my kleure is
dra lig binne jou wimpers sien die pers en blou en groengeel ligte in jou bloed en voel hoe klop jou pad binne jou are kyk hoe vaar jouself die lewe in en teken die patrone op die klippe in die koelte voel die verf onder jou hande vryf die roes sag in jou wonde in
vaar weg in ope vlaktes in vaarwel aan al jou tasse en bagasie vat net moed en liefde saam dra lig dra swael op jou gewrigte los herhaal werk op die wit papiere uitgepak in hopies om die bed wat jy nou agter laat langs al jou trane en jou spoeg

deur Tania Olsson
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za. Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.