Quantcast
Channel: Gedigte – Roekeloos.co.za
Viewing all articles
Browse latest Browse all 448

Gedigte van Driekie Beetge

$
0
0

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Hartseer

As ‘n gebroke huwelik
Se ure vinnig verby tik;
Wat jou binne soos ys laat;
Jou innerlike krag jou verlaat.

Soos winde van verlange,
Soms so vreesbevange,
Deur jou hart se mure waai –
Wie sou kon raai!

As selfbejammering jou omring;
Ure in trane jou vasbind;
Laat dit jou hart koud,
En jou liggaam oud.

Laat gaan ‘n ou belofte.
Om in die verlede te leef – geen wonder.
‘n Gebroke hart – bring geen eer.
Laat staan hartseer wat jou stroop – selfs amuseer!

In Die Nanag

As die nag se stilte jou siek maak,
Die slaap saam die son verdwyn;
Jy het nooit gewaak – verval in sprokiesverhaal.
Wanneer wonde binne jou nooit ophou pyn.
Jou lewe stilletjies in die nag wegkwyn.

Wie sal jou stukkies optel,
Jou in die laatnag van sy liefde vertel!
Is daar een wat jou help om te vergewe,
As die haat in jou hart lewe?
Tot die seer met die eerste sonstraal weg swewe.

As die laatnag se donkerte jou koud maak,
Die leemtes in jou hart jou benoud maak,
Wanneer die hartseer nie wil ophou,
Die spoke van gister jou gedagtes gevange hou,
Die wonder, “Sou hy dit ooit kon berou?”

Kon jy maar die verlede oorskryf,
minder foute maak – Die vrese verdryf!
Hoe lank nog die hoekoms en waaroms verdra,
Bly hoop vir geen rede, gedra,
Sonder antwoorde ‘n nuwe begin kon skryf.

Wanneer jou dogter in die nanag jou trane afdroog;
Jou in haar arms toevou;
Jou seun in sy hart sy moeder se woorde hoor;
Wie sal jou hartseer help versmoor;
In die middernag jou aan God toevertrou?

Want dit is Hy wat jou weer laat glimlag,
Jou liefde beantwoord – jou in Sy arms liefkoos;
Optel elke keer wanneer jy val;
Is dit Hy wat jou bevry – jy is Sy kroos.
Elke hart het sy redes – in eie keuses vergal.

Sommer so

Sommer so in one eie tye;
Verewig gevind sonder kommer;
Gesteelde soene in rye;
Word ons kunswerk bewonder.

Sommer net ek en jy saam
In kleure van liefde gemeng op die skilderdoek;
Ons eie kunswerk vasvang in ‘n raam;
Kosbaar opgeskrywe in ‘n lewensboek.

Stille oomblikke – sommer so –
Ek en jy in tydloosheid vasgevang;
Word bewus van jou sielsoë;
Jou rede en belang.

Jou hartklop galop teen my lyf;
Vertel van liefde wat verewig brand;
So sonder kole, soekend na jou hand;
Vat jy aan my hart – so word ons beskryf.

Vasgepen in vervulling –
Meer as net ‘n droom;
‘n Belofte gevind in elke reënboog;
‘n soete aroma in liefdes-wyn gegeur – ‘n warm tinteling.

So sonder ‘n vraagteken of ‘n komma
Word geskryf, sonder ink ‘n boek, geen nota.
Sommer so in ons eie taal ingekleur;
Natuurlik nooit verveeld.

Ons twee saam gemaklik,
kunstig in mekaar gerangskik;
In mekaar gevleg
voer ons ‘n lewensgesprek.

Sonder ‘n woord of op ‘n doek geverf,
‘n hartslied sonder ‘n koor;
Sommer so – Ek en jy – bekoor;
Wat ‘n kunswerk!

Twee Verdwaalde Harte

Twee verdwaalde harte;
Gestrompel op die gebroke ritme van elk se lewenssage.
Eens platgetrek en verwerp … Stukkend en rou gekerf.
Na mekaar uitgereik in ‘n dapper oomblik.

‘n Kort boodskap dans deur die golwe van die lug;
‘n ‘Hi’ … vertel meer as enige gedig.
Middernag se gesprekke swewe op seine;
Vertel elk sy eie verhaal oor die lyne.

“Kan ek jou bel” word drie oproepe verder.
Die pyn van ‘n donker nag vergete as bederwer.
‘n Nuwe dag gebore uit Moederlewe se vrese.
Die ‘waaroms’ deur haar gebaar word sagkuns uitgevee.

Mnr. ongeskeer,
Met sy Fordjie, windverwaai deur lewenswinde,
Land by my hart se deur – Word my beminde;
Laat ‘n dogter wonder wat haar ma makeer.

Met een aanraking kom die keuse;
Hand aan hand stap ons saam die pad.
Waardering en Liefde word ons leuse;
Genees deur soveel vreugde – Gevind in elke glimlag.

Ligvoet en spelende – Word ons weer kind.
So dans, eens twee verdwaalde harte, gevind;
Soos een op die simfonie van hul liefdespassie, bemind;
Swewend op die vlerke van lewensgeluk.

So word eens twee gebroke harte
in geloof en liefde geheel, al brandende
In begeerte, op die mooi dag – nooit verdeel
Aan mekaar verbind, twee word een.

Tot ons weer ontmoet

So tussen ‘n mengelmoes van geraas
Verwag jy stilte in ‘n diepe slaap.
Vele soorte sakkies druppend,
Masjiene wat flikker
Dra die boodskap van ‘n hart se klop.
Polsslag gemeet op ‘n monitor.

Bloed pomp deur die are
word gesteel – bloed sonder waarde;
Boodskappe gemeet aan verwagting,
Of baar dit op die einde die dood?
Waar kom ons hulp vandaan
Wanneer die monitors skree sonder hoop?

Waar is die antwoord
In die hoekoms en waaroms?
‘n Moeë liggaam is nou rustend.
Hiermee sê ons finaal totsiens – word jy gegroet
Tot ons mekaar weer in die ewigheid ontmoet.

‘n Man – word gegroet deur sy vrou, sy beminde.
‘n Vader – sal altyd wees ‘n held vir hul kinders.
‘n Geliefde seun – lewe geskenk in vreugde verander in rou.
‘n Ouer boetie verlaat vier jonger boeties – hulle sal hom altyd onthou.
‘n Vriend – gedagtes gedeel in die verlede om te behou.
‘n Kollega – ewig en altyd getrou.

Wanneer geen troos in woorde gevind,
In ‘n stryd wat geen mens ‘n antwoord kan bring;
Dan sing ons ‘n lied om berusting te vind,
“Omdat U leef” Of “Amazing Grace”
Wat ook al die lied – Wat ook al die preek,
Kobus – jou met jou sielsoë sal ons nooit vergeet.

‘n Brief-gedig aan My Nuwe Moeder

Hoe sou ek hierdie dag anders kon voorstel:
‘n koue winterdag in ons nederige woonstel,
Aan die skrop en vee… stof mag haar nie irriteer.
“O.. jy wil Ma beïndruk?” vra hy spottend onder beheer.

“Hoe lyk my hare?” ‘n Vraag goed aan die wonder.
Voor ons weet, staan sy by ons voordeur,
Geprikkel deur belangstelling of dalk bekommerd?
Kom kennis maak – in haar hart ons liefde goedkeur.

“Wie sou haar seun se trane in ‘n glimlag kon verander?”
Het sy sekerlik gewonder…Hoe dan anders?
‘n Moederhart wat weet van haar lammer se lief en leed;
Hartseer wat enige moederhart breek.

Hiermee bring ek aan my nuwe Moeder eer.
Beter sou geen ander haar seuns kon leer,
Van liefde en respek, verseker onder beheer;
ook hoe om eendag sy vrou te hanteer.

Soos pêrels is sy karakter gevorm;
geskaaf deur sy eie lewenstorms,
Vertroosting gevind in ‘n mooi Geskiedenis;
Vasgelê in sy opvoeding as kind.

Sy hart se roep na geluk en waardering,
Kom die antwoord – ‘n soeke na liefde en vrede;
uitgereik na my – wat ‘n wonder!
Kosbaarheid gevind – so besonders.

‘n Gebed om tog te vind – uiteindelik verhoor,
‘n Ware man om my lewe met hom te wil deel;
Met soveel vryheid in liefde – my hart verloor;
Met versekering aan mekaar gegee.

So begin ons lewensboek;
‘n Nuwe lewe op versoek;
‘n kosbare skat in mekaar gevind;
Om mekaar werklik te bemin.

‘n Belofte om hom te eer, ‘n kosbare oester!
In woorde en dade in my hart te koester;
Nou word ek sy Vrou;
Nooit om te berou.

Saam gebore die wete;
Te dank en te ere,
‘n Moeder, eens tannie Beetge,
Vervul nou as Ma hierdie rol, blywende ‘n begeerte?

Gedagtegang van ‘n Moederhart

In die waaroms van ‘n moeder se hart
Dwaal onrus in bloed vasgevang;
Bekommernis se hartklop pomp angs
In die hoofslagaar van haar gedagtegang.

Soos blitse val vanuit die hemele
Weerklank gedagtes soos ‘n besetene.
Soos ‘n rolprent speel haar verlede
Voor haar sielsoë – gisters ooit vergete.

‘n Verlede rol voort soos in ‘n film;
Vind ‘n weg diep in haar eie familiekring;
Wat begrawe was word ontwikkel;
Tot volle gestalte in haar bruinoog vinkel.

Uit die diepte van haar kind se binneste;
Roepend tog ‘n sluimerende innerlike
Word beantwoord – haar hart die gewilligste.
So ontwaak haar DNA ook in haar eie beminde.

‘n Vloek op ‘n ouer se nageslag!
Kan dit wees! Bloed verniet gevloei op Golgota?
Vloeke onder die wet – ‘n erfenis van die kwaad –
Net vir ‘n man se nageslag wie God haat.

Die lewe dra pakkies van ‘n wye keuse;
Bied geskenke aan in geluk en of gebore uit eie vrese,
Gee elkeen ‘n kans om te groei tot reuse –
‘n Vrye wil in ‘n geskenk van ‘n nuwe lewe.

In vroeë ure wyk kwelling uit ‘n Moederhart;
Rus vind ‘n weg deur haar gedagtegang,
Vloei in are drome – beloftes gevind in volle prag;
Gemeet en uitgedeel in die belofte van die Nuwe Dag.

Gesteelde Onskuld

Weggesleep, Mnr., deur jou eie gemoed,
Verwronge beelde versnel met n spoed,
Word waar dit waarna lustigheid soek.
Wie sal jou ooit vermoed?

Op die ritme van waansin draf jou hart.
Soos wilde perde word siek begeertes mak.
Dwalende hand, eens geliefd, drup van angs,
Vat jy nog steeds sonder toestemming wat jy kan.

Meneer, vol wellus, wie gee jou die reg?
Sustertjie of klein niggie, hou hom weg.
Oom of broer, hou jou hande verberg;
Stiefpa of selfs eie oupa, ruk jouself reg.

‘n Kind onskuldig mooi en nog so rein;
Dis hoe sy bestem is om te bly.
Ongevraagde waaroms hardloop ongetoë;
Hoekoms sonder eie wil of vermoë.

Wellustigheid dwaal rond in jou twee oë;
Vertel n verhaal van jou eie ongenoeë.
In ‘n keuse hardloop gedagtes sommer wild;
Word jou slagoffer ‘n onskuldig kind.

Net Jy

Tussen môres en saans
Raak jy my hart en siel aan.
Tussen geen bewoording en ‘n blyk wat verstaan
Lees jy my wonders en my betoog.
Tussen pyne en moedeloos
Vertel jy my van geloof.
Tussen vasbyt en weet
Stap ons die lewenspad as een.
Tussen die kansel en ons lewensfees
Word ons belofte vervul.
Tussen ure en plesiere en geen benul
Van foute of weggewenste tyd
Staan ons sy aan sy … Weet ek dis net jy.

Wat ‘n Kunsfees

Soveel gedagtes vasgevang,
In verskillende kleure op n kwas
Gemeng met gisters, ja wat was,
In ‘n nuwe skepping vermag.

Dip jou kwas in rooi en blou,
‘n koningskleed word ontvou.
Helder jou skepping op met groen en goud,
Genade te groot om toe te vou.

Met donker dieptes vul die kwas leë spasies
Waar skeiding val tussen geluk en bewerasies.
Skep ‘n nuwe horison sonder tralies;
‘n vrye dagbreek vir nuwe gedagte-generasies.

In bewondering op n doek;
‘n pad lei oë wat soek;
Na die middel van n gemoed;
‘n sonsopkoms of sy ondergang op versoek;
Is n keuse wat jy vermoed.

“Mamma …”

‘n Vreemde klank val in ‘n moederhart
Net ‘Ma’ n woord ontrafel ‘n kinderhart,
‘n leemte tussen jare se spore,
Vrae vir altyd ongebore.

Ongevraagd sonder eie wil,
Twee gedompel in ‘n huis word sewe!
Bly jy net ‘n kind,
Oorlewing die rede.

Onder ouers se oë nooit gevind!
‘n koue reël ego deur die jare.
Nooit gesien maar so skeef,
Ook nie gehoor – veeleisend die rede.

Onskuld word gesteel
In jare van stief wees;
Geen stories word geduld;
Sou dade lank reeds begrawe jou vind.

Pyn so goed weggesteek;
Onder jare se stof begrawe;
Vlug… Vasgevang in nuwe jare …
Twee wonderwerkies word gebore.

“Mamma” ‘n kind se eerste woorde,
Val soos salf in n jong moeder se hart;
Onwetend dra seer oor na ‘n nuwe geslag.
Sou ‘n lewe van verwerping eie kinders inwag?

So staan ‘n Mamma dan voor die Heer:
“O, Heer wys My U Vaderhart met ‘n Moederkant.”
Nooit geleer ken, hoe sou sy verstaan;
‘n Mamma se seer en skuld self moes dra.

Vergifnis die antwoord, bring dit genesing?
Maak dit dan sommer net als reg?
n kind se onskuld verlore verewig?
Lewe die diewe in hul eie weg!

Sou hierdie Mamma, net ‘n kind,
aanskou haar eie Ma se keuses in smart gevind.
“Hoe dan nou Liewe Vader, soveel lyding
In Ma se siel in liggaam vasbind?”

‘n Ma se eie woorde –
so sonder smaak nooit gewaarborg,
“Te help haar te versorg…”
Was haar eie se enigste rede vir haar gebore?

Bly ‘n Ma onversorg en verniel
Vir ‘n erfporsie, siek in siel,
Deur ‘n stiefkind gesteel van haar eie,
Staan twee dan skuldig?

Drome nou ongebore, bly in ‘n graf;
Het ‘n Mamma tog kon erf vanuit haar Ma se hart?
Eie kinders, gebore uit haar skoot;
Nooit regtig verstoot!

Tog ‘n erfenis nagelaat, kunstig geweef,
Gevorm uit ‘n Vader met ”n Moederhart.
‘N Droom om vir Hom te leef;
Gee Hy Sy eie lewe …

Soet val die woord “Mamma” in berusting;
So sag in ‘n Moeder se hart – ‘n plekkie gevind.
Soeter die Woord “Ouma” van haar eie kleinkind;
Om die kindwees in hierdie Mamma te vind.

My Vonkelkind

So tussen eie geskiedenis
Kuier gedagtes in herinnering
in maande van lewe gedra
oomblikke lank reeds gevra.

‘n Hartjie se dans verkondig lewe
Reg onder ‘n moederhart.
‘n Wandel terug in vreugde-skakering
Vertel van ‘n bruinoog se binnekant.

Gevorm in been en murg;
So volmaak ‘n hart se binnekant!
Met ‘n glimlag om uitdagings te oorbrug
Vul ‘n vrou se lewe met ‘n ewige blydskap.

Vandag vasgevang in sy loop
strek oor soveel jare opgespoor,
‘n Kleine mensie te vind –
in harte gegraveer my dogter-kind.

So hardloop dagdrome terug
van my borrelende vonkelkind,
Haar eerste asemteug tot haar eerste treë
Op spore diep getrap – soveel om te gee.

Ontwaak dankbaarheid in ‘n moederhart,
die rede, haar dogter, in tye saamgevat;
‘n Droom word in liefde beleef.
Jy, my kind, gebore om in volheid te leef.

Baie geluk, my pragkind,
dit is jou geboorte dag,
Mag jy altyd vir die lewe glimlag
Die rede: Sy Goedheid en Guns jou omring.

Liefde Mamma

Kampvuur

Net ek en jy vir ons eie plesiertjie
Om ‘n Nuwe Jaar se vuurtjie
Fluister die Kalahari
Sy eie liefdesliedjie.

‘n Kiewiet-gesang
met ‘n sonbesie-lied op sy bes
Bring lewe regdeur die nag;
Streepmuis al in sy nes.

Nog ‘n stomp wat wag
Om op te vlam
Word ‘n gloeiende kool;
Tye vasgevang bring troos.

‘n Geritsel in die gras
‘n end van ons vlam;
‘n muishond verdwyn
Terwyl die vlam wegkwyn.

Dis ‘n Nuwe Jaar
Terwyl die bed al kraak
Sê ons “Lekker Slaap, my beminde”
In soveel vrede en berusting.

Moeder

Wanneer die uurglas vir jou moeder leegloop,
En jy voel so kaal gestroop
Wie sal jou hand vashou in die nood?
Wanneer herinnerings in jou gemoed afspeel,
Die seer jou hart laat beef.

Wie sal kan bid soos ‘n moeder vir haar kind?
Wie sal jou nou lei as jou lewensgids?
Wanneer jy besef dis tyd om los te maak;
Wanneer sy deur lyding die las
nie meer alleen kan dra.

Dis wanneer jou eie hart
voor jou voete stukkend val,
en jy voel so verlate en weerloos;
Wie sal jou soos sy kon troos,
en die stukkies weer kan maak pas?

Wanneer jyself nie meer
haar lyding kan verduur,
En jy net een versoek aan die Vader kan gee;
Was haar liefde genoeg om vir ewig te duur
en selfs vir hierdie uur.

Dan kom die berustende wete
dat al haar bede
Aan die Vader toevertrou
jou altyd op jou lewensweg sal vergesel;
elkeen nooit vergete maar in tel.

Dis wanneer jy na die hemele opkyk
om in stille afwagting jou hoof neer te buig
met lippe fluisterend, “laat u vrede haar omring
en met lieder na U boesem bring
om saam ‘n engeleskaar te sing.”

Dankie Vader

Geen Skeiding In Hom

God, ons Abba Vader,
Stigter en Beplanner,
Van die mees relevante redding.
Hoe groot die volle som in hierdie kennis!

Ingebore in ‘n menslike vorm
– In ‘n Seun – strek oor elke norm;
Verbreek elke grens van menslikheid;
Behaal oorwinning in elke stryd.

Deur die dood en die graf
Bring Hy hel tot ‘n val.
Ons was dan dáár!
– In Christus – Wat ‘n verhaal.

Gevul met Sy volle teenwoordigheid;
Gebore in Sy ewige Koninkryk;
Te lewe selfs deur massiewe teenstrydigheid;
Gewortel in Sy liefde tot in ewigheid!

Fenomenaal – wat ‘n oortuiging!
In lewe of dood – geen bedreiging –
Hier en nou of in die onbekende,
In perfekte of verdraaide wense…

… In geen dimensie van enige som,
In enige tyd of ruimte – in hierdie kosmos,
Hier of in die vreemde toekoms,
Geen skeiding – ons in Hom.

Sy liefde vasgelê in ons genesis
Om beklee te word as Sy wesens.
O, om te kan weet – bekend soos altyd!
Te lewe in Sy heerlikheid.

(Verwys na Romeine 8: 38-39)

Die Mees Intieme Unie Denkbaar

Die Seuns – geen produk van die beste raaisel;
Volwassenheid – Groter as die sluierstelsel.
Sinodes – Soveel pogings om te definieer;
Uitgevind om te beheer.

Ons Vader – Buite bereik van uitwissing,
Filosofie of kunste;
Dan kom n uitnodiging uit ‘n vrye keuse;
Mondigwording – ‘n leuse.

Die mees intieme unie denkbaar;
Die kosbaarste Geskenk erkenbaar.
In ‘n spieëlbeeld bly ‘n afdruk,
‘n Weerkaatsing van ‘n kuns.

In al hierdie redenasies
Bly die redenaar ‘n kind
Voordat hy homself as man in Hom bevind;
Geopenbaar in ‘n lewegewende generasie.

Bekend Soos Altyd

‘n Raaisel sonder openbaring;
‘n Lewe vol spanning;
‘n roepe vanuit harte,
“O…om te ken soos altyd!”

Van aangesig tot aangesig;
Die profetiese rede vervul.
Die volwasse man in die Gesalfde;
Bekend soos van die begin.

“Ek het jou ontwerp,
Geken voor jou ontstaan,
Jou as Myne gemerk,
O! in wese so volmaak”

Onthou Wie Jy Is

Stelsels bly wedstryde in resies;
Maak bedelaars eensame wesies;
Oordeel in regters van ‘n verdraaide identiteit;
Leë beloning vir moontlike eerbare lojaliteit.

Politiek, sport, beroep of kerk
Word aangestel vir vermaak;
Daarin prys die mens sy eie werk;
Terwyl ons in Een Koninkryk staan.

Onskatbare waarde in ‘n Geskenk;
Weggewys, onteer in ‘n oue eeue denk;
Gemeet in verdienste sonder eie vrug;
Vind hieruit ontvlugting, “Onthou wie jy is!”

Sink In

Uit eie keuse het Hy Homself veroordeel
Om met die mens se vreemde bestaan te deel;
Waarmee Hy Homself verbind;
weet Hy dié beker moes Hy drink!

Die voleinding van Hierdie inkarnasie
in die dood en opstanding vir alle nasies
beteken dat die Seun van God
vir alle mense sou sterf – moes kom!

Eens en vir almal, hier en nou, geen ontsnap!
Konings beklee om verewig die kroon te dra.
Om in Christus in te sink;
As – verruil vir sieraad! Beslis!

So word die mens vir ewig vasgeanker,
en bevestig in wese as sy wesens.
Ontsnapping uit Sy liefde – wie wil?
Sink in Hom, jou nuwe kleding.

Ek-IS!

In waarheidsterapie vir emosionele traumas
Wys dit uit op alle onbenulde dramas.
Openbaar in waarheid lê die integriteit
Van die outentieke lewe lank genoeg in geen realiteit.

In volle heerlikheid, Ons Sy bloudruk
Verlos verewig gekroon in Christus.
Hy is die bron van ons genesis.
Die mensdom voorgestel, in eie identiteit, beslis!

Paulus se geskrifte, “alles het vernuwe op die aarde.”
Sy lewe glad nie gedefinieer deur prestasie,
eerder bevind in outentieke waarde!
Jou lewe, kwantitatiewe waarde of kwalifikasie?

Die ware lewe vasgelê in ons bloudruk,
Op die ware beeld van God gefokus.
Dit is ‘n lewe van heers in Christus;
Deur ‘n Seun geopenbaar in die mensdom as “EK-IS”.

Vriendskappe

‘n lewe oorgegee, ja verkoop,
om mense se harte in Sy liefde te doop.
‘n kosbare skat, in ons, geopenbaar;
‘n wete vervang die hoop.

Ongeldige afleidings toegelaat;
Gedagtes te besin – weggeraak!
“Ek-In-Hom” – geen spoor van die vleesmaat;
Gefokus op Hom, Wonderbaar!

Die wete word ontdek;
Daar is geen kraak in jou ontwerp.
‘n Verlosser het Hom kom vertoon;
Jy, so volmaak, volledig in Hom – jou loon.

Vir ewig jou egte waarde herstel,
Om te leef in Sy beeld: aangesig tot aangesig.
Geen skewe weerkaatsing in ‘n spieël om in te stel.
Dae van venster-inkopies-begeertes afgesit.

Berusting binne ‘n ware vriendekring;
So in Sy teenwoordigheid;
Voorgestel aan jou ware identiteit;
Blootgestel aan liefde, wie jou bemin!

 

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 448

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!