Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
Heel
Grou is die dag se blou
Roosmaryn weg is die pyn
Leliewit ek het my lief gevind
Sonneblomgeel als is weer heel
Die pad
En die pad is vêr
En die dag is oud
En die blom verlep
En die trane verdiep
En die pad is lank
En die heil is vêr
En die brand in my keel
Wil net glad nie heel
Want die tyd stap aan
En die seisoene draai
En die jare gaan
En die mensdom taan
En my oë is blou
En my hart is grys
En die paadjie se einde
Is maar net ‘n huis
Vat die pad
Ons vat die pad weg van die stad
Karen Zoid, Koos Kombuis en ‘n valk
Kosmosse maak ‘n piekniekkombers tussen mentgroen gras
Sonneblomme verf ‘n geel skildery tussen lappies lande
Blouswart beeste afgeëts teen klipsteen bouvalhuisies
Swart sade hang aan hartseer takke met geel blare verweef
Vuilpienk grasse pronk tussen Villiers en Frankfort
Bale hooi staan op lande soos opgerolde bolletjies wol
Strepieswolke bo vlaktes en ‘n pad
Tweeling en Bethlehem ons raak warm
‘n Veereier op vlug oor vlaktes vry
‘n Begraafplaas en telefoondrade groet ons hartlik waar ons ry
Clarens
Gryswit wolkies streel saggies my rug
Vierkant houtbaksteentjies plak teen die ou boom se stam
Takkies rooi bessies swaai laggend in die lug
Vêrlangs kom die wind se asem waar ons hier rustig die aarde kam
Grassies wapper rustig op die groen tapyt
Die son sukkel om nog ‘n laaste skyn in te kry
‘n Duifie koer in die verte, dis amper aand se tyd
Die rustige kalmte van hierdie juweel knussies om my
Boslelie
Oranjerooi drome opgevou van my
My hart lê aan flarde soos rooi geskeurde sy
Die boslelie van jou se oranje blare klaar weg
Jy moes geweet het, wil my hart terg
Want iemand soos jy sou nooit vir my val
Die winde van verandering laat niks tot die toeval
Die dobbelsteen se rol sou ek nooit kon kul
Hierdie bitter beker het die onheil self gevul
Mandala
Hoe mis ek jou want jy is jy, altyd genoeg vir my
Jy weet altyd wat ek binne uitstaan
Jy is my kompas, sonder jou is ek ‘n planeet sonder wentelbaan
Hoe ver sal jy nie gaan om iets vergete by my te kry
Jou teer hande is gou om my te troos
Sonder jou sagte kykers mis ek die helfte van my lewe
Jou geduldige geaardheid omvou my brose wese
Jy is my mandala, jou kalmte vat weg my lewenskoors
Troukaartjie
Ek het ‘n vriendin, sy maak die ongelooflikste troukaartjies
In die nagtelike ure suig sy aan haar Twisp
En skep die mooiste kleure en patrone
Terwyl die wêreld kalm word en almal lê en slaap
Onbewus van wat om hul aangaan, opgeraap in hul drome
Sit sy in die stilte van die nag en bewaarheid ander s’n
Moeiteloos gly haar oë oor die kurwes en lyne
Druk haar vinger die muis op die regte ritme
Skep sy kunswerke vir elke bruid om mee te spog tot groot bewondering
Wie sou kon glo dat ‘n troukaartjie so klein
Soveel mooi en prag in die wêreld kan bring
Sy vat lint, papier en kant
En maak die wêreld ‘n verruklike plek
Lego
Oe ek is o so klein
En ek is deur die huis soos ‘n trein
Want ons het vir my Lego bestel almal!
En dit kom sowaar al die pad van Wuppertal
Pappa het gaan sit voor die rekenaar
Saam het ons met groot oë gestaar
Daar was die mooiste speelgoed, ek was so bly
Olivia se sterrewag het uiteindelik my sakgeld gekry
My oortjies suis en my hartjie bons
Want ons spoor my pakkie op soos hy plons
Pappa sê hy slaap by Isando vanaand
En hopelik kry ek hom voor môre aand
Somber
Vandag is een van daai sommerso dae
Geen groot uitroeptekens of beklemtonings
Net ‘n gewone dag waar niemand my moet pla
Geen opgewondenheid of optowerings
Vandag is ek nie ‘n Suzelle nie, maar ‘n Marianne
Ek is nie reg vir vandag en eerder geweeg en te moeg bevind
Om berge en heuwels te versit sal nooit weer bestaan
Gee my eerder ‘n skuiling waar ek my wonde kan lek en verbind
Vol Sirkel
‘n Wilgerboomsaad ontkiem en hy verrys bo-oor my – ek is beskermd
‘n Druppel val voor my en ‘n rivier vorm – my dors is geles
‘n By bestuif ‘n perskebloeisel langs my – ek is gevoed
‘n Man kom vly hom teenaan my – ek is bemind
‘n Verskietende ster sien ek – ek het my plek in die heelal gevind
Anrien
Anrien waar is jy nou?
Waar is jou perdesterte en jeans halfpad opgevou?
Onthou jy nog ons speletjies van asem ophou?
Anrien hoe lyk jy nou?
Sal jy my herken sonder ‘n fiets en bubblegum in my kies gekou?
Skatte skelm begrawe en saam die tyd laat ophou?
Anrien wie is jy nou?
Is jy gelukkig en het jy toe met die man van jou drome getrou?
Het jy ons trampolien drome bewaar en jou koers altyd vasgehou?
Mensekindjie
Mensekindjie in my jy is klein
Jou ogies het nooit kans gekry om te huil
Jou hartjie het nooit die seer geken van verlies
Jou mondjie het net die pretensie geken van lag
Mensekindjie in my jy is klein
Jy mag huil vir die verlies van grootmenspyn
Jy mag die seerste seer in jou hart ronddra
Jy mag die rukkende krete van sorge ervaar
Herfs
Wysertjie van my dag draai al hoe vinniger
Sonnetjie skyn sy strale al hoe minder
Warmte speel wegkruipertjie met my gereelder
Die somer vind sy spel met ons verveliger
Blaartjies waai al hoe wilder rond
Hul steeltjies raak tingerig en val na die grond
Groen verander na ‘n kleur warmer gemeet
Oranje, rooi en geel spatsels oral op die kleed
Die warmte van die winterkaggel roep
En die vuurherd se skadu’s gee ‘n heerlike gloed
Strandparty
Die wind waai saggies deur my hare
terwyl ek ritmies dans op snare
Klam korreltjies sand terg klewerig my tone
en skuimpie watertjies soek my vloeiend droomverlore
Die sandduine verrys soos begroeide skilpaddoppe
met vuurvliegies wat glinster in die koppe
Die rooi gloed op my vel maak alles rustig
terwyl ek my in die laaste bietjie son kan verlustig
Die strandvuur word aangesteek en die musiek word al harder
en ons dans en sweef met ons sorge ver agter
Die samesyn is helend en die ritme is lewend
net soos hierdie glorieryke aand ons sal bybly met elke seewind
Slaai
Vandag skep ek vir jou ‘n slaai my dierbaarste lief
Met groen blaarslaai en bindslaai wat spattig rond dans
En stukkies bronkors en vinkel wat tussen hul wals
Geurig kom Italiaanse pietersielie en selderyblare en wil graag bydra groot asseblief
Nou vir die tongtergende vy en peer met stukkies sout van fetakaas om jou te vermaak
Bessies is reg vir die optog: aarbei, framboos-, braam-, en bloubessie spring in
Gekaramelliseerde sade knars volop en val met pampoen-, sonneblom-, en sesamsaad juigend in
Heuning en balsamiese asyn rond die skepping af om jou palet in te kleur met tintelende smaak
Wat was
Dis die grys van ‘n gebou se stene
Wat maak dat ek die spieëlbeelde van gister wil begrawe soos bene
Dis die holte van ‘n skoenlapper se kokon
Wat maak dat ek die kleure om my rond wil drom
Dis die aas van die visserman se vangs
Wat maak dat ek die golwe van die see vir my laat dans
Dis die swart van die laaste ryp olyf
Wat maak dat ek weer my wil vly teenaan jou lyf
Dis die grys van die vuurherd se as
Wat my herinner aan als wat ons eers was
Die tikkende voëltjie
Tik tok tik tok ratjies draai na die skoppelmaai
Tik tok tik tok my ratjies maak dat ek raai
Tik tok tik tok my mamma se ogies raak bekommerd
Tik tok tik tok al die gefluister laat my verwonderd
Tjirp tjirp tjirp tjirp die voëltjie in my kop sing al weer
Tjirp tjirp tjirp tjirp mamma vat die bladsy en probeer nog ‘n keer
Tjirp tjirp tjirp tjirp mamma praat met juffrou agter die deur
Tjirp tjirp tjirp tjirp ek hoor mamma huil selfs deur die donnerweer
Rooi Romanse
Robynrooi tossels vee sag oor my arm
Sagte plesier laat my binneste warm
Fluweelsag satyn gly oor my wese
En laat my weet ek is jou keuse
Merlot versierde glase omraam ons lipvoue
Met roomkaas en granaatgeur voel ek ek is joune
Sagte vingers met kerslig verstreep speel saggies op my bene
Rooi spatsels van roosblare maak ‘n wonderlike net van moontlikhede
Die Buitestander
Ek is aan die buitekant – ek kyk in
Ek is op die platform – die treinwiele wat rol begin
Daar is ‘n groot partytjie tafel gedek, te fraai – maar die wind het my stoeltjie weggewaai
Daar is ‘n pragtige pretpark – maar hy het nie plek vir nog ‘n hart
Dis die storie van my lewensdraai – verewig tot ‘n troostelose halfnat swaai
Want die glyplank wil nie reguit en die wipplank wil nie wip
En die springmat se snare is al lankal losgeknip
Die wêreld roep: “Kom kyk! Kom kyk!”
Maar my veters is aanmekaar vasgeknoop en my sole vol slyk
Die toertjies is skouspelagtig, maar ek sit in die agterste ry
Die son skyn warm op hierdie pretdag, maar die onweerswolke omvou my.
Waterdruppeltjie
Waterdruppeltjie wat hang aan my venster se raam
Het jy enige idee met watter krag jy hierdie aarde omraam?
Die geboortevlug om als wat oud en dood was groen en nuut te maak
Val my klein druppeltjie vêr en hoog bo die bergpieke verby
Die dorstiges soek na hierdie troos
Hulle het al opgegee … verlep, verwaaid, verbrand en sonder troos
Jy was weg, ons het na jou gesoek
Vir jou gebid, gepleit, geween
Maar jy kom altyd terug soos ‘n ou getroue vriend
En ons kan net wag en kyk met trane in ons oë wat jy bied
Want jou mag is meer as ‘n duisend man
En sonder jou sal hierdie planeet aarde nie kan bestaan
Hout
En daar verskyn ‘n manskind asof uit die niet
En saam met hom drome van gister uit ou splinters saamgepers
En hy dra met hom die lewe van hout geblaas uit poeierstof
En die jare van saagsels gekerf tot perfekte daad
En nooit sal ek weet wat hierdie manskind eens wou wees
En nooit sal ek weet of die hout sy hartsnare warm speel in die nag
Want ons drome was eens so anders in ‘n ander land ‘n ander tyd
En jy kry net een kans om jou drome uit te beitel
Blou-wit
Blou is die blouste nou wat jou hou
Teen my hand vasgepalm in letters aan jou uit my hart vasgevou
Wit die witste toe wat jou vat
Uit my greep wegbreek uit stukke papier en wapperend voor my oë wegspat
Blou is die heerlikste weer van dalk môre
As die letters weer grepe word en die grepe weer woorde word sonder sorge
Wit is die dalkste toegee van die noodlot se rem
Wat jou hand laat stywer druk en die warmste witste kneukels myne beklem
Grassie
Grassie
Grassie wat waai oor die duin
Maak my ‘n kind, ek is klein
Laat my gedagtes rondomtalie speel
En met die son se strale strepies vleg van geel
Vat my waar die winde wegkruipertjie dans
En ek my veters skoon vastrap soos ek wals
Want in die grootmens wêreld is daar voete wat jou vertrap
Hul loop jou skuins en forseer uit al jou sap
Grassie kom laat ek langs jou sit en jy saggies teen my waai.
Dan beskerm ek jou en ons droom kinderdrome en vlieg in lugbalonne vêr oor die kaai.
Weersiens
Tot ek jou weer ontmoet
Sal die harp nie weer speel
Sal die voëls nie meer sing uit hul keel
Is die son nie meer kanarie geel
Tot ek jou weer ontmoet
Blom Jakarandas nie meer blou
Waarsku lighuise nie meer getrou
Verdwyn die lente se eerste dou
Tot ek jou weer ontmoet
Sal ‘n brander se sproeireën my nie weer verras
Die Karoo se turksvye nooit weer op sy vlakte dans
En die Kaapse fynbos nooit weer tussen my vingers knars
Tot ek jou weer ontmoet
Is ek maar net ‘n droom van gister
Van dit wat ons saam gedeel het versilwer
‘n Spieëlbeeld van ons verhouding, ‘n glinster
Boeremeisie
Trek trek daai bootsies stywer vas
Skop skop daai beentjies terwyl jy dans
Jy’s ‘n boeremeisie hart en siel
Gooi nog esse met jou fietswiel
Jy’ t jou eie wil
Almal sluk ‘n chill pill
Goue waterval wat onder jou cowboy hoed uitkrul
Jy’t ‘n blommetjies romp met ‘n kantjie wat uit wil
Blasvel bene met rowe en skrape op
Jy’t seegroen oë en ‘n wipneusie rond
Jy vra oor als ui en skop op die grond
Jy’s plaas gebore, beste fluitjie mond
Die manne is hygend, droomverlore
Hulle wil betower, maar jy’s nie te kope
Jy’s ‘n kind van die wind , ‘n vrye siel
Die manne, wel jy sal hul harte verniel
Maak jou hare los en klim op jou perd
Jaag in die veld tot die son water trek
Jy’s perfek gemaak
Bly almal se lewens vermaak
Vandag is die dag
Vandag is die dag
Kyk mense vandag is die dag
Waar die kwikstertjie nie sy stert wip dag en nag
Waar die liewenheersbesie bietjie ophou rondkruip
En onder ‘n blaar se waterdruppel lê en suip
Vandag gaan die naaldekoker bietjie bedaar
Selfs dalk ‘n groepie stig wat elke week vergaar
Die bytjies gaan vir besig tong uitsteek
En vir die koningin al die heuning wegsteek
Die toktokkies gaan hul agterent stilhou
En bietjie voel hoe dit voel om ‘n bessie te slaan met ‘n kishou
Die miskruier gaan ophou agtertoe loop en rol
En kyk watter miernes tref daai misbol so eerste in die kol!
Die wurmpies gaan teen blomstele opkruip en bo hulle verbeel
Elkeen sit rustig in sy eie glorieryke kasteel
Ja liewe mense vandag is die dag
En wees gereed want net dalk sal een van hierdie dinge jou laat lag
Alice
Rustige ruspe rook uit jou pyp
Al die wêreld se wonderwerke uit
Gorrel en borrel en blaas
Alles in hierdie wêreld wat raas
Stukkend, roggelend, hortend
Alles verskeur, verswelg, stortend
Blaas jou pypie se binneste skoon
En maak vir ons ‘n nuwe droom
Van lande waar hase nie skarrel
En die rooi koningin se wind nie rond dwarrel
Waar die mankoliekige kuil van goeie begrip getuig
Waar Alice die onmoontlike oorkom terwyl skares juig
Waar almal ‘n lekker koppie tee kan drink
En almal kon sweer daar was nou net ‘n kat, het hul gedink
Kinderland
Sweempie swewende wind
Waai die gedagtes van my kind
Vêr verby die pieke van grootmenshoop
Hoog verby die berge van kanniedood
Draai haar gedagtes met gekleurde lint vas
En las daarby ‘n strikdas wat net vir kinders pas
Sprinkel korreltjies goud en silwer towerkrag
En bietjie van daai kabouter se wilskrag gemaak uit smarag
Streel haar gesiggie met veertjies van ‘n baba-uil
Kielie haar toontjies met vuurvliegies wat dans op ‘n ou kuil
En uiteindelik plons haar rond tussen marshmallow gekleurde wolke spookasem
En laat sy laf wees en verspot wees, skree en gly- tussen al haar gelag en gewip en gewasem
Gekweste woord
Woordjie jy is in ‘n oorlog maar is geskiet en gewond
Jy bloei aanhoudend en loop met lap om jou gekweste kop rond
Jy steier en val en probeer nog terug baklei
Jou leestekens raak wasig en jou sinne verloor in die oorlog se vallei
Jou bloedspore word weggewas deur riviere van sout
Jou wonde word toegebrand deur krete van benoud
Jou oorlog is verloor en jy is moeg en uitgeput
Jy wag vir hulp van bo in hierdie bodemlose put
Jou huisvesting droog met bleek prewels van hoop
Jou skuiling wys krake duidelik een laaste kreet van nood
Die einde kom sag geen pyn en jy is blind
Die warrelwind kom maak ‘n draai en eis nog een laaste kind.
Die Teenstryding
Ysig die wind van hierdie stille dag
Skroeiend die son van hierdie somber nag
Loeiend die sirene van hierdie mymerende grens
Skreiend die geskreeu van hierdie eensame mens
Rou wond
Die seer kom van binne af
Van diep binne die rou wond
Wat ontbloot lê onder die gapende opening
Wat eens ‘n stukkie iets was
Die kringe om die maan
Die kringe om die maan
Vol beloftes mooi geraam
Waterdruppel spellend ruisend
Sagte veerhek heinings pluisend
Donker wolkies dryf verby
Sagkuns na die liefde van my
Wind dra maanligstrale saam
Ligkrans na my lief se naam
Stille Nag
Hoe stil die nag
Hoe teer sy wese
Hoe koud die son
Versteek sy vrese
Die ysere wil van die stilte
Hierdie hoofstuk nie belese
Die knielende buiging
Krommend oor vergete gebede
Seerplek
Die seer kom van binne af
Van diep binne die rou wond
Wat ontbloot lê onder die gapende opening
Wat eens ‘n stukkie iets was
Woordjies
My liewe klein kind
Die woordjies wat wink
Sal soms nie sin maak
Vir hierdie kleine kind
Die verse wil nie rym
En die woordjies veels te klein
Dit alles te veel
Vir hierdie kind nog so rein
Maar hou uit my hartedief
Die wêreld is dalk moeilik en stief
Maar eendag sal jou koppie wel
Jou die woordjies laat lief
Want sonder hulle is jy leeg gesuig
Kan jy nie treur of jolig juig
Hulle help jou om weer vol te word
En vir ander van wonderwerke te getuig.
( My kind skryf more groot speltoets en ons het maar min tyd gehad om te leer)
Wolkie
Wolkie
Bolletjie wol in my hand gerol
Klam blink draadjies om die brandende kol
Goue randjies om die wolkie gebind
Môre is onweersdag se kind
Motreëntjie een man se seën
Strome water ‘n ander man se geween
Wolkie so donker en teer
Alles onder jou buite beheer
My draadjies se knopies raak los
My houvas raak so glad soos mos
My wolkie raak ‘n donderstorm groot
My draadjies wapperend ver in die nood
My wolkie nou lank reeds vergete
Sy gedaante het verwissel in my gewete
Weggaan
Soos dou met die oggendson hoor ek jy moet gaan
My hart gebreek in stukkies, sukkel om te verstaan
Jy was hier, het ons almal se lewens versier
Nou gaan jy weg na ‘n vreemde plek, vêr van hier
Jy was ons anker, ons voice of reason in tye van nood
Wie sal nou ons kan kalmeer en wys waar’s noord?
My vriendin jou kalm stilte sal ek mis
Jou warm jy wees en omgee sal ek moet aangee as vermis
Mag al jou drome waar word in ‘n land ver van hier
As dit so bestem is laat die uitkoms jou lewe versier
Maar weet een ding sonder jou sal ons nie kan aangaan net soos gister
Jou sterretjie bly in ons harte skyn en glinster
Tasmanian Devil
My warrelwind vriendin is ‘n belewenis
Sy het gekom nog voor die dag begin
En hou al klaar vir onbevoegdheid begrafnis met ‘n enkele sin
Sy slaap nooit, dis dan vir die voëls!
Hier is dinge wat gedoen moet word
Kry reg jul koeëls en hou by die rules
Sy is in overdrive “asta la vista baby”
As jy nou nog sukkel sal ek jou opwen met bietjie woema en ‘n rooi pen
Sy kan gate boor en plugs koppel dis waar
Sy kan fone regmaak en bedrading toets, met rekenaars maak sy klaar
Sy is ‘n Jack of all trades, let wel master too
Geen job is te groot of ingewikkeld vir hierdie dolla dis true
As jy dink sy kan nie iets doen – wel rewrite your review
Maar glo my hierdie chick het die sagste hart nog ooit
Jy kan nie glo so wille tornado het so kalm middelpunt gesien amper nooit
Sy laat jou bokspring maar as jy val is haar vangnet oop
Jou tou van vriendskap met haar is sterk ‘n ekstra knoop vir elke nood
Ek lief my vriendin sy is meer as wat al die geld kan koop
Sy bring vir almal in ons plekkie baie hoop
Sy is ons “Tasmanian Devil” original gedoop
Die slapery
My sussie wil nooit gaan slaap
Sy raak net eenvoudig nooit vaak
Ek dink sy is eintlik ‘n masjien gewis
Haar knoppie wat afwen is heeltemal vermis
My ouma is al lank aan die snork
Dan eet sy nog skelm kos uit ‘n bord
Dis nou met my ma om die tyd om te kry
Die ure kan soms so stadig verby gly
Dan loop sy rond met haar kamerjas, een kous en ‘n iPad
Pappa moes nou die dag ‘n kodewoord inwerk
Want sien sy ken al elke speletjie en video
Van Katy Perry wat roar tot in Rio
En as dit rêrig ernstig raak wil sy by mamma lê en na haar selfoon kyk met ‘n ysere wil
Na al die foto’s en videos waar sy soms haar doodgril
En as ons sê Annique-noek nou is dit klaar
Begin die trane en snikke hul openbaar
Dan lê sy in haar bed en gesels met haarself nog so uur
Gaan haal sap, vryf die honde, enige plesier
Maar uiteindelik raak haar ogies tog pap
Met duisende boeke, ‘n flits en speelgoed op haar slapende gesig gepak
Maar moenie glo as daai dingetjie eers slaap
Draai sy 180 grade en skop en stoei nes ‘n aap!
Met al daai speelgoed en boeke en selfs gesigrome
Het sy nog manewales in haar oerwoud van drome
Dis dié dat sy so kwaai is as sy wakker word
Sy’t nou net gaan slaap nou jaag ons haar weer op
En sy soek haar duikbril een kous en die iPad
Want sy moet tog iets doen terwyl sy ontbyt eet en aantrek!
Bessie
Bessie se rokkie was altyd plat gestryk
Haar skoentjies blink gevee om mee te pryk
Haar haartjies in 2 ponies ewe hoog
Haar kragie wit en netjies op die oog
Bessie het haar werkies getrou gedoen
Huiswerk altyd eerste en vir mamma ‘n môresoen
Tafels mooi geleer en uit haar kop geken
Elke spel-kompetisie het sy gewen
Maar Bessie het ‘n klein geheimpie gehad
Want as pappa van die werk kom word hy kwaad
Dan word Bessie se rokkie verskriklik geplooi
En haar skoentjies word vertrap, nou effens rooi
Dan het Bessie gegaan na ‘n verre land
Waar sy kon sing en dans die hele dag lank
Waar pappas was wat jou optel en suigstokkies gee
En as jy geval het jou gesiggie skoonvee
Maar Bessie se ogies het more weer oop gegaan.
Haar rokkie platgestryk en skoene wat mooi daar staan
Want sien sy het nie hard genoeg probeer
Om haar pappa se liefde te wen dié keer
Nature’s Valley
Klein juweel van smarag weggesteek
In ‘n klein holtetjie op hierdie planeet
Ons wat van jou weet wil jou oppas
Laat ander nie kom vat wat ons s’n was
Lang oop seestrand weerkaats jou sonstrale
Seebranders terg ons vir jou genade
Vuurvliegies wink saggies sesuur saans
Dis tyd om son na sy lêplek te help dans
Bosbokkies trap suutjies op lowergroen blare
Bobbejane spring parmantig oor die aarde
Jou juweel van ‘n plek ek wil jou in my hart toevou
En skenk aan ander wat nie meer jou kan geniet vir vashou
Toe ons nog kinders was
My kind hoe wens ek vir jou strate wyd
Met kinders wat saans al donker geroep word vir etenstyd
Met fietse wat ry na die veld en rivier
Wat bote vat en die meer verken van daar na hier
Wat hardloop en val met knieë stukkend
Maar ai ma se soen beter as Dettol verbande drukkend
Waar is al die brandende braaivleisvure
En gaan speel tot laatnag by die bure
Waar is gaan stap in die aand met jou ouers ver agter langs
En resies jaag op jou fiets vir vandag jou laaste kans
Swem in riviere en mere sommer naby
Hang van ‘n tou of oor die groot ou klip afgly
Ja daardie tye is vir nou eers verby
Die mensdom is siek en geen medisyne kan hom nou regkry
Zoey
Wit warm springende donsie
Jy word gebore al grommend in hierdie mensland van ons
Jy is rats en begaafd slim
Met jou intellek bemeester jy enige ding
Jy is mal or babas en haat kinders
En kry tog so koud in die winters
Jy is bang vir weerlig en ballonne
En van liefde kry jy tonne
Jy is versot op motte en geitjies
‘n Vlieg staan geen kans teen jou bytjies
Jy vang enige bal maak nie saak hoe vinnig en ver
Jy kry enige speelding maak nie saak hoe versper
Jy bly pronk en almal dink jy is nog so jonk
Maar die lewe het beplan vir ons almal ‘n tronk
Jou hartjie gee in en jy stuk na jou asem
Iets is nie reg in jou lyfie se wasem
Ek hou jou aan die lewe nog een jaar gespaar
Met vyf pille elke dag en aanvalle wat openbaar
Jy probeer nog bal speel soos van oud
Maar die lyfie nou heel benoud
Jy lê en tjank dis nou nie meer lank
Jou borskassie nou hygend moeg en mank
Jou ogies kyk my smekend aan
Jy is slim, jy weet wat kom
Die pad na die veearts was die langste in hierdie mensdom
Ek kry die boodskap wat ek nie wil hoor nie, ek bewe
Ek hou jou vas, jy tjank en veg vir laaste bietjie lewe
Ek is gebroke, my hart in stukke
Die dag is hartseer en die trane kom met rukke
Slaap sag my liewe mooie dier
Ons huis sal nooit weer dieselfde wees sonder jou hier
Selfoon
In ons huis is daar ‘n gekners en geween
Want sien Pietie in my klas het ‘n selfoon
en ek soek óók een!
Ek het al so mooi gevra, maar my ma skud haar kop en sê vra vir jou pa.
Ma vra wat miskien wil jy met so iets doen?
Jy het nog nie eens jou eerste boyfriend gesoen?!
Maar die voordele dié sê ek is eindeloos
As juffrou wonder oor die wedstryd van vanmiddag en die weer, kan ek keer
Juffrou die voorspelling is matig met net ‘n paar wolkies, niks meer
As pouse aanbreek kan ek my alarm stel
En nie vergeet om my kosblik op te tel
Dan kan ek mos onthou om na hartelus te ‘smul’
Aan al die gesonde goedjies wat ma my mee probeer kul
En as Anna se rok knoop weer laat spaander
Kan ek haar ma bel en sê bring gou ‘n ander!
Daaglikse krisisse is iets van die verlede
Met my selfoon naby hoor ons almal se noodkrete
Daar’s net een probleempie, pa sê ek moet dit met my eie sakgeld koop
En soos dinge nou lyk sal ek my sussie moet verkoop!
Wegneem etes
As ek en my sussie hoor ons gaan Mc Donalds toe ry
Tuit almal se ore
Heen en weer word gebokspring
Want ons is so bly!
Ons is nou wel bietjie honger
As ons hard probeer
Maar die beste is die persent wat kom met die ete
Wie kan vra vir nog meer?
Pa sê dis omkopery
En ma sê eet eers jul kos
Ons eet langtand ‘n hap hier en daar
Wie kan nou konsentreer as jy weet jou speelding soek jou mos
En dan kom die hoogtepunt
Ons kan dit oopskeur en vergelyk
Mamma maak seker dis dieselfde
Anders is dit sommer gou-gou baklei tyd
Ma sê mens kan sien dis van China
Pa sê die kinders het darem geëet
Dis nou as die helfte van die huishouding ons kos self opeet
Dan speel ons lekker met speelgoed verniet
Maar o wee wat voel ek nou in my maag skiet
Dis skote van ‘n maag wat grom en skree
Eks honger!
Waar’s die kos wat jy my sou gee!
Gewoonlik onderdruk ek die uitkoms van hierdie scenario in my geheue
Ma en pa is baie kwaad en daar word geskree
Hulle het immers hul swaarverdiende geld bestee
Dan kom die goeie ou oplossing
Two minute noodles vir julle twee
Ook nie so gesond en ook vol MSG
En Mc Donalds wel dié sien ons nie weer!
Pap
Kyk daar is een ding wat ek jou kan sê
As my sussie se oë oopgaan
wil sy net pap hê
Nie eens more mamma of pappa
Of hoe hoe gaan dit met die hond?
Nee al haar maniere val op die grond
Sy lê in haar bed en weier om te praat
Sy bol haar kieste
en raak vreeslik kwaad
Pappa sug en gaan hoor maar watter geur
Sy is baie spesifiek
Anders sit dit teen die deur
Nou sal jul almal dink
Siestog baba sussies maak maar so
Hulle het pappies nodig en melkies om te drink
O maar moenie dit glo nie
Daardie pap maak haar bomenslik sterk
Sy begin al aan die ouderdom van ses te werk!
Ligkinders
Ligkinders met hande geweef van goud
Draai ligstraaltjies na die mensdom eeue oud
Speelkinders met laggies wat gesigte opbeur
Lafheid wat die grysaards onverwags welkomend bespeur
Waterkinders die druppels dans om jul rond
Die watervalle van giggles so baie dit val op die grond
Grondkinders die klamheid is klewerig en vol klei
Die toontjie drukkers se spoortjies skuil ondeund in die vlei
Aardskinders tuimel en rol op jul aardbol groenblou en rond
Hardloop en spring die dag om met nuwe gesag en krag
Korreltjie sand
Korreltjie sand windverwaaid en vry oor my grond
Korreltjie sand die reën kom was jou en jy spring juigend rond en bont
Jy sit aan my harde stewels vas
Deel van dié aarde is jy, selfs tussen my groewe het jy jou houvas
Maar korreltjie sand die winde het gedraai
Jy klou aan my en koes vir Wagter se stert wat swaai
Die onweerswolke pak saam in ons eenvoudige bestaan
’n Onwelkome gas word op die gastelys vir vanaand bygestaan
Korreltjie ek is moeg en ek is honger
Maar vanaand is onheil beplan vir die sommer
Korreltjie sand jy trek van my weg
Gevee oor die kombuisvloer want vanaand is hierdie huis nie reg
Korreltjie jy is ‘n balletjie klei papnat en verander
Jou kleur ruik na rooi spatsels van ‘n ander
Jy is nie meer rond maar skeef getrek en gebuig
Jy het bulte en stampe en stukke grondjies weg terwyl ander juig.
Korreltjie waar is jy nou in die stilte?
Daar was ‘n geroer en rumoer met baie skilde
Ek moes koes deur elke traan om jou te bewaar
Hulle wou jou vat van my, my korreltjie gewerk voor so swaar
Die wind kom in en waai jou brose lyfie weg
Korreltjie van hierdie plaas sal jy nooit weer eerste sprietjies veg
Jy is in duisende buskruit stukkies geblaas na niks heel verdwaas
Jy ween en soek jou sandjies op die hoop grond nie ver van hierdie plaas
Die swart roos
Fluweelsag swart roos omvou my
Hou my broosheid weg van al die seerkry
Beskerm my teen die reën en hael en blitse
Sodat ek warm kan wegkruip in jou binneste
Koester die oomblik ek en jy alleen ge-kokon
Net ons teen die skrapnel van die dodelike bom
Hou jou stingel regop en weer af die wind
Hou jou kop omhoog met in jou lyf hierdie mensekind
Sodat jy weer kan oopgaan na die storm bedaar
En die mensekind jou kan omhels, met stuifmeel drukkies dankbaar
Die swart niks
Swart son safiernag in my wese
Grepe grou spatsels kerf my binneste met swepe
Die bloedhond kom al nader aan die prooi
Die gekweste valk fladder weerloos tot niks hom nooi
Spervuur omring die swart vergader
Roet en reën skimmel al hoe nader
Koud en swart vries verhard tot dooie niet
Binne my maalkolk is alles deurmekaar en verniet
Die asem se lyf lê bewegingloos oop
Vergaders van smart omhul die pyn se doop
Die ashoop verstik in roet en weeklaag
Geen hoop op hierdie hartseer vernederende neerlaag
Indeks van digters
Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.